GEORGE NUUS - Die Wes-Kaapse provinsiale verkeersafdeling is tans besig met verskeie verkeersoperasies in die Eden-distrik.
Die area sluit onder meer George, Knysna, Mosselbaai en Oudtshoorn in.
Volgens provinsiale hoofverkeersinspekteur, Quinton Williams, word soortgelyke operasies al sedert verlede Woensdag uitgevoer en vorm dit deel van Vervoermaand-operasies om padveiligheid te bevorder.
“Spesiale fokus is op dronkbestuur, padwaardigheid van voertuie, die geskiktheid van motoriste, openbare vervoer, asook enige ander verkeersverwante oortredings soos bewegende oortredings,” sê Williams.
‘n Taxi word by die provinsiale verkeersafdeling ondersoek.
Saterdagaand, 22 Oktober, is meer as 10 motoriste in die George-omgewing vir dronkbestuur in hegtenis geneem. Verskeie taxibestuurders is vir dieselfde oortreding in hegtenis geneem.
Die operasies kan verkeersopeenhopings veroorsaak en Williams vra die publiek om asseblief geduldig te wees en om verkeersbeamptes toe te laat om hul werk te doen om veiligheid op ons paaie te verseker.
Soortgelyke operasies gaan vir ‘n onbepaalde tydperk voortduur.
‘n Passasiersbus is ook tydens die operasie geskut.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'