GEORGE NUUS - Wanneer daar beurtkrag of 'n kragonderbreking in George is, sal 'n nuwe verkeerslig op die hoek van Airway en Witfonteinweg op pad na Blanco gebruik maak van sonkrag om te funksioneer.
Tot op hede was die verkeerslig afhanklik van UPS-batterye om in sulke omstandighede te werk, maar met die installering van sonpanele word 'n betroubare alternatief nou gebied.
Die aankondiging is Saterdag 3 Junie deur George-burgemeester, Leon van Wyk, gedoen by 'n geleentheid van die George-sakekamer waar Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, ook was.
Van Wyk het tydens die geleentheid 'n oorsig gegee van die munisipaliteit se planne om die uitdagings van beurtkrag die hoof te bied.
Die munisipaliteit gebruik sowat 10% van die krag wat hy van Eskom koop vir eie gebruik.
Van Wyk het Dinsdag aan George Herald gesê George kan daagliks 85 MW van Eskom gebruik. Op die oomblik gebruik George sowat 78 MW. Die mikpunt is nog 4 MW daarvan deur energiebesparing te bewerkstellig.
Daar gaan ook gepoog word om die samewerking van verbrui-kers te kry om hul kapasiteits-lading te verminder.
Hy het gesê die sonpanele by die verkeerslig is een van verskeie projekte.
Dis moontlik dat daar later ook by ander verkeersligte sonpanele aangebring sal word.
Die mikpunt is om teen 2026 nie aan fase 4 van beurtkrag blootgestel te wees nie.
Die verkeerslig op die hoek van Airway en Witfonteinweg op pad na Blanco wat met sonpanele werk. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’