Gallery
GEORGE NUUS - Die beeld van Afrika was 'n kleurvolle affêre met inheemse koptooisels, rokke en hemde tydens die vereniging vir mense met gestremdhede (APD) in George se jaarlikse debutantebal. Met Afrika as tema het die kinders en jongelinge verlede Saterdag gedans op die ritme van musiek by Pacaltsdorp Sekondêr se skoolsaal.
Vier groepe het opgetree tot groot vermaak van die ouers en belangstellendes. APD-personeel het die afgelope twee maande hard gewerk aan hierdie vertoning.
Die kinders wat die meeste geld (met die hulp van hul ouers) ingesamel het, was Wendel van Beulen (wenner), Patrick van Beulen (tweede plek), Faith Kapank (derde plek) en Johannes Mpetsheni (vierde plek). Busiziwe Madolo, Katriena Griffies, Liza Lawa en Joan Heist is aangewys as die bes geklede persone tydens die geleentheid.
Glen Fortuin, die koördineerder van APD se dagsorgsentrum, het gesê die blootstelling wat die kinders gekry het is baie goed, ten spyte van hulle beperkinge. "Ons fokus op dit wat hulle kán doen, en nie op dit wat hulle nie kan doen nie," het hy gesê.
Dawid Waggenaar (links) het sy 15de verjaarsdag saam met sy ma, Hester Matroos, by die geleentheid gevier.'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'