GEORGE NUUS - Groot gedeeltes van die R404 tussen Blanco en die George-lughawe wat vyf jaar gelede gerehabiliteer is teen 'n koste van net meer as R90 miljoen, is besig om op te breek.
Die pad is in 2015 voltooi. Fancourt-inwoner Sal Marsilio kla,
"Hierdie nuwe pad is maar enkele jare oud en is besig om totaal te disintegreer. Dis ongehoord vir so 'n jong pad. Die baie groot slaggate en verbrokkelende padoppervlak is 'n groot gevaar. Die roete word baie deur besoekers vanaf die binneland kus toe gebruik."
Jandré Bakker, woordvoerder vir die departement van vervoer en openbare werke, het per e-pos laat weet dat terugvoer van die padontwerpafdeling afgewag word. Die koerant se navraag is op 3 November na die departement gestuur.
Die gedeelte pad vanaf die nuwe sirkel net buite Blanco tot by die N2 verby die lughawe is tydens die projek verbreed, herbou en herseël. Erge verbrokkeling vind plaas tussen die sirkel en die aansluiting by die R102.
Kayleigh Brogneri van Baseline Civil Contractors het per telefoon gesê die direkteur, DC Geldenhuys, gaan nie kommentaar lewer nie.
Geen reaksie is ook op 'n e-posnavraag, gedateer 3 November, ontvang nie.
Die padoppervlak op die R404 tussen Blanco en die kruising by die R102 verbrokkel. Foto's: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'