GEORGE NUUS - Pacaltsdorp Primêr het verlede Vrydag hul eerste brandoefening in samewerking met George-brandweer gehad.
Marvin September, die skool se veiligheidsbeampte en koördineerder, sê hulle het reeds voorheen twee suksesvolle oefenlopies gehad.
"Ons wou dus een formele brandoefening doen sodat almal weet wat presies om te doen, en sodat ons weet hoe lank dit gaan neem om die geboue te ontruim."
September sê hulle het die klok twee keer gelui en dan moes elke onderwyser seker maak dat die klas ontruim word. Sodra die klas ontruim is, moes die onderwyser die vullisblik buite sit as aanduiding dat die klas leeg is. Hulle het ook 'n beampte van Veilige Skole genooi om te kom kyk wat die skool doen, en hoe hulle die proses kan verbeter. Volgens September sou die beampte na die brandoefening terugvoering aan die skool gee.
Wilson Jantjies, die voorsitter van die skoolbeheerliggaam, sê hulle het dit bespreek en gevoel dit is 'n goeie tyd om so 'n veiligheidsoefening by die skool te doen. Jantjies, wat 'n polisieman is, meen veiligheid is belangrik en dus gaan hulle vorentoe ook ander veiligheidsoefeninge doen.
"Ons beplan so 'n oefening met die bom- en honde-eenheid." Hy sê dit is ook opvoedkundig vir die kinders om te sien hoe die honde tydens so 'n oefening reageer wanneer hulle na dwelms of 'n bom soek.
Die sowat 1 300 kinders was baie opgewonde om die brandweer te sien toe hulle op die noodsituasie gereageer het.
Pacaltsdorp Primêr verlede Vrydag tydens hul brandoefening.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'