GEORGE NUUS - Sommige mense doen dinge om raakgesien te word, of erkenning te kry, maar nie die groep van die Sensei Martial Arts Academy van Parkdene nie.
Die hoof van die akademie, James Olieslager, sê hy woon in Le Vallia, en wou reeds maande iets doen om die omgewing rondom die Rosemoor-sportstadion veilig en netjies te maak.
"Dit was net nooit die regte tyd nie. Dit was of eksamens of vakansie of een of ander ding het voorgeval, maar ek het die voorstel na die klublede geneem en almal het saam besluit dis 'n goeie idee."
Hy en sy groepie kinders het verlede week vir twee dae lank hard gewerk om rondom die veld skoon te maak. Olieslager sê dit het regtig 'n skoonmaak gekort.
Skoolkinders stap soggens in die donker daar verby asook mense wat op pad werk toe is. Jare se ou glasstukke en vullis wat al in die grond ingetrap was, is opgevee en verwyder.
Hy sê vir hulle was dit nie net om iets te doen tot die volgende projek verbykom nie, maar iets wat gedoen moes word, en hulle kon daarmee help.
Die George-munisipaliteit het al telke male versoek dat die publiek saamwerk om die omgewing skoon te hou en om morsjorse te rapporteer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'