TUINROETE | KAROO NUUS - Die Suid-Afrikaanse Depressie en Angstigheidsgroep (Sadag) sê wanneer spanning kop uitsteek, is dit belangrik om dit raak te sien en te oorkom. Namate jy meer verstaan hoe stres jou beïnvloed, sal jy met maniere vorendag kan kom om dit te verlig.
Oefen
Raak ontslae van die druk wanneer jy senuweeagtig, kwaad of ontsteld is met oefening, soos hardloop, stap, tennis of tuinwerk. Oefening raak ontslae van daardie "opgewende" gevoel, laat jou ontspan en glimlag. Onthou, jou liggaam en verstand werk mooi saam wanneer jy oefen.
Deel jou stres
Dit help om met iemand oor jou bekommernisse te praat. Dalk 'n vriend, familielid, onderwyser of berader wat jou kan help om die probleem in 'n ander lig te beskou. As jy voel jou probleem is ernstig, kan jy by 'n professionele sielkundige, psigiater, maatskaplike werker of ander geestesgesondheidswerker aanklop. As jy weet wanneer om hulp te kry, kan dit dalk ernstige probleme verhoed.
Ken jou perke
Moenie teen die situasie baklei as 'n probleem buite jou beheer is en nie op daardie oomblik verander kan word nie. Leer om te aanvaar wat is - vir eers - tot jy dit wel kan verander.
Kyk na jouself
Rus genoeg en eet gesond. As jy prikkelbaar en gespanne is weens 'n gebrek aan slaap of omdat jy nie reg eet nie, sal jy nie stresvolle situasies goed kan hanteer nie. En as stres jou herhaaldelik uit die slaap hou, moet jy jou dokter vra om te help.
Knyp tyd af tyd vir pret
Ruim tyd in vir werk én plesier. Om te ontspan is net so belangrik vir jou welstand as om te werk. Jy het 'n blaaskans nodig van jou daaglikse roetine om net te ontspan en pret te hê.
Neem deel
Een manier om verveling, hartseer of eensaamheid te voorkom, is om te gaan na daar waar dinge gebeur. Dit kan jou frustreer om alleen by die huis te sit. In plaas daarvan dat jy jouself bejammer, raak betrokke. Bied jou diens aan in jou buurt of by vrywilligersorganisasies. Raak betrokke by die wêreld en ander mense en jy sal agterkom dit trek mense tot jou aan. Jy gaan beslis so nuwe vriende ontmoet en nuwe ervarings geniet.
Takel daai doenlysie
Dit kan oorweldigend raak om na alles gelyktydig om te sien en gevolglik kan jy dalk voel dat jy niks bereik nie. Maak 'n doenlysie en takel een ding op 'n slag en trek elke taak dood nadat jy dit afgehandel het. Maak die belangrikste goed 'n prioriteit en doen dit eerste.
Moet jy altyd reg wees?
Ontstel ander mense jou, veral wanneer iets nie verloop soos jy wil hê nie? Beproef samewerking pleks van konfrontasie. Dis beter as om te baklei en altyd "reg" te wees. 'n Bietjie tegemoetkoming aan albei kante sal die spanning verlig en albei gemakliker laat voel.
Dis oukei om te huil
'n Ordentlike huilsessie kan 'n gesonde manier wees om angstigheid te verlig en selfs 'n hoofpyn of ander fisieke gevolge verlig. Haal diep asem - dit verlig ook spanning.
Skep 'n stil ruimte
Jy kan nie altyd weghardloop nie, maar jy kan "die onmoontlike droom droom". Jy kan jou weg uit die beroering of 'n stresvolle situasie dink deur aan 'n stil, rustige plattelandse toneel of skildery te dink. Lees 'n boek of speel mooi musiek om 'n gevoel van rus en vrede te skep.
Vermy selfmedikasie
Jy kan voorskrif- of nie-voorskrifmedikasie gebruik om stres tydelik te verlig, maar dit raak nie ontslae van die omstandighede wat in die eerste plek die stres veroorsaak het nie. Dit moet slegs op doktersaanbeveling geneem word.
Besoek www.sadag.org vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'