GEORGE NUUS - Vrese rondom Covid-19 het die Icosa-leier in die Wes-Kaap, Dawid Kamfer, die week laat gal braak ná die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, die voedingskema vir skole die week geaktiveer het.
Kamfer sê hy is nie gekant daarteen dat kinders kos kry nie, maar as 'n gemeenskapsleier moet hy dink aan die gemeenskap op Mosselbaai.
"Mosselbaai se Covid-syfer is hoog en niemand weet waar of wie met die virus rondloop nie."
Minister Schäfer het in 'n persverklaring Maandag 6 April aangekondig dat noodfondse beskikbaar gestel is vir die voedingskema.
Die departement het op Vrydag 3 April aan hoofde geskryf waarin hulle gevra word om voorbereidings hiervoor te tref.
Schäfer het ook voorgestel dat kinders die kos by skole in 'n houer gaan haal en dan weer huis toe gaan, om sodoende te hou by die reëls van sosiale afstand. Maar Kamfer sê dis steeds 'n resep vir chaos, omdat dit gesien gaan word as 'n kans om rond te dwaal.
"Die polisie sukkel reeds om grootmense van die strate te hou, wat nog van 'n klomp kinders wat net 'n uitkomkans soek."
Die minister het ook voorgestel dat elke skool self die proses hanteer hoe hulle die kos gaan uitdeel, maar Kamfer voel daar moet eenvormigheid wees.
"Daar kan versoek word dat kospakkies by huise afgelewer word deur die kontrakteurs wat normaalweg kos by skole aflewer."
Kamfer sê hy dink ook aan die moontlikheid dat iets met 'n kind op pad skool toe of terug huis toe kan gebeur. "En wat nog van mekaar aansteek, kinders en onderwysers gaan almal blootgestel wees," het 'n bekommerde Kamfer bygevoeg.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'