GEORGE NUUS - Dryf die onsekerheid oor die gebruik van die strand- en kampeergeriewe by Gwaiing naby Pacaltsdorp betyds op die spits, sodat moontlike probleme in die vakansietyd voorkom kan word. Só vra Virgill Gericke, PBI-lid van die George-stadsraad.
Sy pleidooi kom nadat dit onlangs behoorlik op sosiale media gegons het oor die aangeleentheid en mense reeds aangedui het dat hulle gaan weier om te betaal vir kampeergeriewe.
In die verlede het mense onder naby die strand gratis gekamp, maar hulle mag dit nou nie meer doen nie. Hulle mag wel by die boonste terrein kampeer, maar hulle sal moet opdok daarvoor. Dagbesoekers sal ook van die geriewe by die boonste deel mag gebruik, maar hulle moet ook daarvoor betaal.
Gericke wou juis onlangs 'n dringende mosie tydens 'n stadsraadsvergadering indien. Hy het by navraag aan die George Herald gesê hy wou juis die mosie debatteer om groter duidelikheid te kry oor die raad se beleid in die verband. "Dit is onaanvaarbaar dat daar elke jaar 'n krisis is oor toegang en kampering.
"Dit is feestyd, 'n tyd van vrede waar almal gelukkig wil wees en die natuurlike skoonheid sonder steuring geniet."Historiese agtergrond
Volgens hom is dit belangrik om in gedagte te hou dat die gebeure 'n historiese agtergrond het. Hy het reeds vergaderings met munisipale amptenare gehad oor toegangsfooie by die kampeerterrein. "Ek het die besorgdheid van die publiek aan die munisipaliteit oorgedra."
Volgens Gericke is die strandoord (die kampeerterrein ingesluit) in die verlede deur 'n privaat instansie bedryf. Die munisipaliteit het twee jaar gelede beheer oorgeneem. Dit beteken dat die beleid wat in die verlede gegeld het, nou verval het.
"Daar is 'n persepsie dat mense nie vir geriewe wil betaal nie. Dit is van alle waarheid ontbloot en as gevolg van die onsekerheid is daar nou frustrasie."
Hy het gesê daar moet wel in gedagte gehou word daar is mense wat uit die voorheen benadeelde gemeenskappe kom en nie astronomiese bedrae kan bekostig vir kampeergeriewe nie.
Met sy mosie wou hy duidelikheid kry. "Die PBI vra dat die stadsraad sy beleid moet heroorweeg. Ons is bitter teleurgesteld dat die DA-lede waarvan sommige in Pacaltsdorp woon, nie wou toelaat dat die mosie dien nie. Ons bevraagteken die motiewe van die DA-raadslede om dit teen te staan."
Volgens Gericke moet onthou word dat mense staan aan die vooraand van die feestyd en die aangeleentheid moet dringend aandag kry om moontlike konflik te vermy.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'