GEORGE-NUUS -Drie persone het die naweek by Ballotsbaai verdrink in twee afsonderlike voorvalle op dieselfde dag.
In die een voorval Saterdagmiddag omstreeks 17:30 het twee persone verdrink tydens ‘n doopritueel by Ballotsbaai nadat die sangoma wat die geleentheid gelei het, in ontstuimige waters beland het.
Me. Mandisa Ndodana (54), ‘n tradisionele geneser van Kaapstad, het haar balans verloor en gegly nadat ‘n brander haar getref het. Volgens kapt. Malcolm Pojie, die provinsiale polisiewoordvoerder van die polisie, het sy met haar rug na die see toe gestaan toe sy mnr. Gladwell Mlanjeni (37) van Zone 9 in die water wou doop.
Mlanjeni het toe ook in die water gespring in ‘n poging om haar te red, maar beide is deur sterk seestrome meegesleur.
Slegs 100 meter verder van waar dié twee in die moeilikheid beland het, het nog ‘n man vroeër die dag omstreeks 08:45 in die water geval.
Mnr. Phidile Eric Fehota (31) van Asazani-plakkerskamp in Thembalethu was vroegdag op die rotse saam met vriende waar hulle gehengel het toe hy in die water geval het.
Volgens Hennie Niehaus van die Nasionale Seereddingsins-tituut (NSRI), het die voorval sowat 3km wes van Ballotsbaai plaasgevind.
Polisieduikers en redding-spanne van die NSRI het oor die naweek en vroeër die week onverpoos na al drie die vermistes gesoek, maar hul soektog het niks opgelewer nie.
Artikel: Lizette da Silva