Beide het na die finale rondte, wat op 30 September 2012 in die Hugo Lamprechts Ouditorium, in Kaapstad gehou word, deurgedring.
Die ATKV Animato kompetisie is die internasionale streekskoor-ekwivalent van "Applous," (die koorkompetisie vir skoolkore), en word aangebied deur die ATKV om koorsang tussen streeks-, provinsiale-en-universiteitskore vanuit verskeie lande te bevorder. Dit is die enigste koorkompetisie van sy soort en die standaard is uiters hoog. Vanjaar het vyftien van die beste kore in Suidelike Afrika aan die streeksrondtes, wat deur Prof. Petru Grabe (Universiteit Pretoria) beoordeel is, deelgeneem.
Die voorgeskrewe musiek sluit 'n program van twintig minute se koorsang in, en vereis een onbegeleide werk; een klassieke werk uit die Romantieke tydperk; een voorgeskrewe Afrikaanse werk; (vanjaar werke deur die komponis H. Pieter van der Westhuizen), asook een tradisionele Afrika-lied.
Die George Mannekoor, wat vanjaar sy dertigste bestaansjaar vier, het tydens die kompetisie sy internasionale gehalte getoon met 'n roerende program van sensitiewe, deurdagte werke wat sy ervaring in die mannekoor-genre ryklik ten toon gestel het. Prof Grabe se opmerking: "Die koor het 'n ryk toon, musikale aanslag en sing met die hart."
Die Suid-Kaap Kinderkoor, wat reeds in 2010 hierdie gesogte kompetisie gewen het, het in die kinderkoor-kategorie met 'n asemrowend en tegnies gevorderde program, wat werke van Schubert, Bach, Antognini en Hatfield ingesluit het, sy agste Animato-goud ingepalm.
Die dirigent van beide kore, Jan-Erik Swart, het sy trots en tevredenheid met die besondere uitslag uitgespreek, "aangesien slegs die beste kore in die land na die finaal genooi word."
Hy meen dat dit belangrik is vir die gemeenskappe van die Suid-Kaap om die kulturele en musikale uitnemendheid van plaaslike kore, asook die positiewe beeld en internasionale aansien wat hulle tot die Suid-Kaap-streek toevoeg, te waardeer.
Die George Mannekoor doen 'n beroep op voornemende lede (tenore en basse van enige ouderdom) om deel te word van die koor se voorbereiding vir die finaal, deur om die dirigent by 084 645 9320 te skakel. Die Mannekoor oefen elke Dinsdagaand by die NG Kerk Tuinedal. Verdere besonderhede kan op hul webtuiste www.georgemannekoor.co.za verkry word.
Amerika
Op 31 Augustus en 1 September 2012 hou die Suid-Kaap Kinderkoor oudisies by verskeie sentra om lede (tussen die ouderdomme van 9-16 jaar) vir 2013 te kies. Die Kinderkoor is volgende jaar na Amerika genooi vir 'n reeks konserte asook deelname aan 'n internasionale koorfees. Afsprake vir oudisies kan by die bogenoemde selnommer gemaak word. Aansoekvorms kan ook by www.sccchoir.co.za verkry word.
Beide kore berei hul voor om in 2014 aan die Wêreld Koorspele in Riga, Latvia, die EU se kulturele hoofstad van Europa, deel te neem.

Die George Mannekoor het 'n gou toekenning verower. Daar is tans weer 'n werwing vir lede aan die gang. Foto: verskaf