Update
GEORGE NUUS - Ons het twee skote binne sekondes van mekaar gehoor. Só sê 'n ooggetuie wat die nuutste tragedie op die Voëlklip-pad, op Saterdag 20 Februarie, moes aanskou.
Heroldsbaai-inwoner, Chris Hattingh en sy kleindogter, het met hul hond in die Voëlklip-omgewing gaan stap toe hulle op die toneel afkom.
"Ons het omstreeks 18:43, die draai by Hansie se Bank genader toe ons die skote hoor. Oomblikke daarna het ons 'n wit Mazda stadig teen die helling sien afry en versnel. Toe verdwyn dit uit ons gesigsveld," vertel Hattingh.
Dit kom na nog 'n voertuig, die tweede binne die laaste maand, gistermiddag by dieselfde plek waar Heidi Scheepers en haar kinders in Oktober 2019 afgestort het, by die krans afgetuimel het.
Nooddienste is kort daarna na die toneel ontbied waar die lyke van twee 75-jarige vroue gevind is.
Hattingh vertel dat hy 'n rubberslang, lappe, 'n gebreekde windskerm of agterruit en stukke lampskerms op die toneel kon sien.
Die wrak, waarin twee vuurwapens gevind is, is vroeër vanmiddag, Sondag 21 Februarie, herwin.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het by navraag gesê hulle kan in hierdie stadium nie bevestig of die wapens afgevuur is nie.
Die aard van die slagoffers se beserings sal deur 'n nadoodse ondersoek bevestig word.
Meer inligting volg soos dit bekend word.
Vorige artikels:
- Wreckage of car retrieved from bottom of cliff
- Two women die in crash near Voëlklip
- Another vehicle crashes down cliffside on Voëlklip road
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'