GEORGE NUUS - 'n Man is in hegtenis geneem kort ná 'n moord verlede Donderdagoggend in Bontebokstraat, Parkdene.
Volgens Conville-polisie se stasiebevelvoerder, kol. AB Kriga, was die slagoffer, Jonathan Jansen (41), in sy huis toe hy deur die verdagte, Stanley Pieterse (25), met 'n mes gesteek is.
"Volgens 'n ooggetuie het die verdagte bloot by die slagoffer se huis ingestap, hom met 'n mes in die linkerkant van sy bors gesteek waar hy op die bank gesit het en uitgestap," sê Kriga.
Pieterse het Maandag in die George-landdroshof verskyn waar die saak uitgestel is tot 21 Mei vir sy borgtogaansoek.
Man doodgesteek in Kingstraat
In 'n afsonderlike voorval in Kingstraat is 'n man, Denald Scheepers (26), op Saterdag 4 Mei omstreeks 03:30 deur nog 'n man doodgesteek. Volgens Kriga het ooggetuies aan die polisie vertel dat 'n groep mense rondom 'n vuur buite 'n woning in Kingstraat gestaan het toe die verdagte Scheepers met 'n mes in sy been en sy gesteek het.
Die verdagte, Gershwin Piet (25), is kort daarna in hegtenis geneem. Hy het Maandag in die George-landdroshof verskyn waar sy borgtogaansoek tot 21 Mei uitgestel is. Hy bly in aanhouding.
Enigiemand met inligting rondom die twee voorvalle word gevra om die ondersoekbeampte, sers. Jadrean Heathcote by 044 803 3302, te skakel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'