GEORGE NUUS - Tuiniqua-versorgingsentrum se jaarlikse basaar kan weens die Covid-19-situasie nie vanjaar gehou word nie.
Onderkry bestaan egter nie in die woordeskat van die instansie se bestuur nie en hulle het met 'n vindingryke plan vorendag gekom om fondse te verseker.
'n Aanlynveiling gaan in November gehou word. Dit sal die eerste keer in Tuiniqua se 35 jarige bestaan wees dat so-iets gehou word. Mense sal kan bie op bykans enigiets, van 'n vrieskas, 'n bed, ander meubels, porseleinware en selfs
speelgoed. Dit vind plaas tussen 12 en 17 November en mense kan nou reeds op Tuiniqua se Facebook-blad gaan loer wat beskikbaar is.
Sentrumhoof, Alani Voigt, het gesê die fondsinsameling is baie belangrik vir die instansie. Sonder bykomende fondse kan hulle nie oorleef nie. Die jaarlikse basaar sou in September plaasgevind het, maar as gevolg van
Covid-19, moes dit vanjaar afgestel word. "Dit dompel ons in 'n finansiële krisis. By dit, het ons vanjaar nog ander bykomende finansiële uitgawes as gevolg van Covid-19."
Volgens haar het Van Rensburgs Veilings daarvan gehoor en aangebied om te help. Louis van Rensburg, die eienaar, het hom ontferm oor die lot van die inwoners. Hulle hou die veiling vir Tuiniqua sonder enige koste as 'n gebaar van welwillendheid. Tuiniqua het reeds meer as 70 items van die publiek en sakeondernemings ontvang. "Ons is baie dankbaar vir almal se hulp."
Aanlynveiling
Ann Spies van Van Rensburgs Veilings het gesê dat in teorie loop aanlynveilings baie soos op die perseel veilings, maar agter die skerms is daar deurlopende data-insameling. Net soos op die perseel veilings, is daar verkopers en bieërs en wenners en verloorders. 'n Kliënt moet eers registreer om te kan bie. Die eerste stap is om online.vanrensburgsauctions.co.za te besoek en te registreer deur persoonlike detail en 'n e-pos te verskaf. Van Rensburgs Veilings sal dan vir die persoon 'n e-pos stuur om te bevestig dat u registrasie aanvaar is.
Die bod vir elke veiling sluit op 'n geskeduleerde tyd. Die deelnemer met die hoogste bod by die afsluiting van die veiling is verplig om die item te koop. Na afloop van 'n suksesvolle veiling, kommunikeer die afslaer met die hoogste bieër gewoonlik per e-pos, om betaling en aflewering van die goedere te reël. Registrasie vir Tuiniqua se aanlynveiling open op 9 November.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'