GEORGE NUUS - Daar was verlede Vrydag, 20 November, groot vreugde toe Tuiniqua-versorgingsentrum se oudste inwoner, René Maartens haar 100ste verjaarsdag gevier het.
Ofskoon daar as gevolg van die inperkingsmaatreëls nie 'n groot makietie vir haar gehou kon word nie, het dit nie die vreugdevure geblus nie.
Van die personeel het vir haar 'n koek geneem en vir haar gesing. Ds. Hennie Bekker, emeritus leraar van die NG Moedergemeente George, het ook spesiaal vir haar 'n bos blomme geneem.
Sy is destyds in die Ongeluksnek-omgewing van Matatiele, Griqualand-oos aan die voet van die suidelike Drakensberge gebore. Haar pa, Louw Wepener ('n direkte afstammeling van Louw Wepener die kryger van Thaba 'Nchu-faam het daar op die plaas Tweespruit geboer. Haar ma was 'n De Wet van die plaas, Tempe, in die Lady Grey-distrik en sy is 'n direkte afstammeling van genl. Christiaan de Wet.
Vogens haar skoonseun, Jake Muller, was haar jeugjare sorgvry met alles in oorvloed. Die plaasskool waar sy skoolgegaan het was ongeveer 10 km van die plaas en sy het daagliks met 'n perd daarheen gery.
Sy is in 1943 met Willie Maartens getroud en daar is twee dogters en 'n seun uit die huwelik gebore. Haar man is 1997 oorlede en sy woon sedert 2005 by Tuiniqua.
Alani Voigt, sentrumhoof van Tuiniqua, het gesê sy is 'n geliefde inwoner. "Dit was vir ons 'n groot vreugde om die groot mylpaal saam met haar te kon vier."
The oldest resident of Tuiniqua in George, Rene Maartens, celebrated her 100th birthday last Friday, 20 November. She has been a resident of Tuiniqua since 2005.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'