GEORGE NUUS - Die jaarlikse Tuine vir Liefdadigheid waar tien privaat tuine in die George-omgewing vir besoekers oopgestel word, was 'n kleurvolle sukses.
Dit het plaasgevind in heerlike sonskynweer en 'n groot aantal besoekers het opgedaag.
Dit is aangebied ten bate van Badisa. Ria Strydom, Badisa se voorsitter, sê Tuine vir Liefdadigheid, die breinkind van Georgiet Philda Benkenstein, het vanjaar 'n hoogtepunt bereik.
"Die geleentheid is met kundigheid en baie energie georganiseer sodat 'n uiteenlopende verskeidenheid tuine besigtig kon word, van posseëlgrootte tot tuine met die afmetings van 'n park, asook 'n groentetuin en 'geheimetuin' wat besoekers verras het."
Besoekers het met groot waardering en plesier kommentaar gelewer oor die entoesiasme van die tuineienaars, wat wenke en kennis gedeel en so die dag vir hulle spesiaal gemaak het.
"Dankie aan hierdie gasvroue en gashere. Dankie vir elke besoeker se bydrae waarmee 'n stewige bedrag ingesamel is.
Desmond en Philda Benkenstein se tuin in Standerstraat was 'n groot magneet vir tuinliefhebbers gedurende die Tuine vir Liefdadigheid ten bate van Badisa. Die Benkensteins se formele tuin komplementeer Fairview, hul historiese gastehuis.
"Die geld word aangewend om kinders, tieners en gesinne op verskeie maatskaplike maniere by te staan, veral gedurende die feesgety.
"Groot waardering ook aan elke vrywilliger wat Badisa ondersteun en gehelp het om die dag moontlik te maak en aan Philda Benkenstein vir hierdie besondere projek in ons mooie George," sê Strydom.
ARTIKEL & FOTO: PAULINE LOURENS, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'