Met die George Herald se aankoms op die toneel het vekeersbeamptes die ingang na die tronk versper en net polisievoertuie het in en uit beweeg. Twee brandweerwaens is binne die perseel opgemerk. Metro en ER24 nooddienste se personeel het buite voor die tronk gewag terwyl die perseel deursoek is.
Die gedeelte van die tronk, waar die gevangenes aangehou word, was afgesper. Gevangenes het vermoedelik in groepe onder bewaking van bewaarders langs die gebou beweeg.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die veiligheidsmaatreëls tydens die ontruiming is baie streng toegepas.
"Dit is op ‘n veilige manier gedoen volgens die standaard operasionele plan wat in plek is vir ‘n bomdreigement", sê Pojie.
Hy sê ‘n onbekende man het omstreeks 10:15 die radio-beheerkamer by die George-polisiekantoor geskakel en gesê daar is ‘n bom by die George-tronk.
Die man het daarna onmiddellik die telefoon neergesit.
Pojie sê die honde-eenheid, plofstof deskundiges en Vispol-lede was gou op die toneel om die tronk te deursoek.
Geen verdagte pakkies of plofstof is egter gevind nie.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Pojie het ook hul bekommernis oor die hoeveelheid vals bomdreigemente in die dorp die afgelope maande uitgespreek.
Hy sê dit veroorsaak erge ontwrigting en ongerief en is ‘n vermorsing van tyd en geld.
Die George-speurdiens ondersoek tans die voorval.
Die area-kommissaris van die departement korrektiewe dienste het by navraag gesê die ontruiming en deursoeking het vlot verloop. "Ons wag nou om te sien wat die polisie se ondersoek oplewer," het sy gesê.
.jpg)
Vekeersbeamptes het die ingang na die George-gevangenis versper en net polisievoertuie het in en uit beweeg.
ARTIKEL EN FOTO'S: LIZETTE DA SILVA