Kankerpasiënte wat ver van die hospitaal en die onkologie-eenheid woon, kan nou voortaan oornag by Kansa se interimhuis wat gesellig ingerig is om soos ‘n tweede tuiste te wees terwyl hulle behandeling ondergaan. Die interimhuis word beman deur personeel.
Langsaan, op dieselfde eiendom, in Kansa se nuwe administratiewe kantoorblok is daar ‘n konsultasiekamer waar stoma-terapeut, suster Sabrina Barnard, pasiënte spreek. Lymphodema-terapeute srs. Tersia Fourie en Marietjie du Toit doen ook borsondersoeke en papsmere op die perseel.
Minette van Zyl, Suid-Kaap/Karoo-streekvoorsitter het die hoofdonateur, mev. Irma Bruschi hartlik bedank vir die skenking wat die helfte van die prys van die huis beloop het. Opregte dank is ook uitgespreek teenoor die donateurs soos die Lions en Rotariërs wat vir die meubilering van die huis gesorg het.
Mev. Bruschi van Victoriabaaihoogte het op haar beurt weer die huis opgedra aan die nagedagtenis van haar man Corrado, ’n afgetrede ortopeed wat onlangs oorlede is aan kanker. "Corri, soos hy bekendgestaan het by sy baie vriende, was ‘n goeie, hardwerkende dokter, eggenoot, pa en oupa.
"Hy is grootliks waardeer deur sy pasiënte wat volle vertroue gehad het in sy oordeel. Al wat ek gedoen het was om hom te ondersteun dwarsdeur ons huwelik van 58 jaar. Mag sy siel sag rus in vrede en mag die huis met sy toegewyde en geesdriftige personeel van krag tot krag gaan."
Eerste pasiënt
Gaste is genooi om deur die huis te stap en was aangenaam verras oor hoe puik die fasiliteite is waar twaalf pasiënte gehuisves kan word. Die eerste pasiënt,‘n prostaatkankerlyer van die Oos-Kaap, arriveer reeds volgende week.
Suster Tersia Fourie en haar personeel, sowel as vrywilligers is bedank vir hulle harde werk en toewyding, veral ook Quinton Thomas wat gesorg het dat alles finaal gereed was.
.jpg)
The main benefactor, Irma Bruschi and her daughter, Linzi Spence, Gerda Reppard, Christa Steynberg and Minette van Zyl, Cansa’s regional manager.