GEORGE NUUS - Die ou tolhuis in die Montagupas is nou rolstoelvriendelik en dit is ook makliker vir bejaardes om dit te besoek.
Die tolhuis, wat in 1845 gebou is, is een van die grootste toeriste-trekpleisters in die Suid-Kaap. Dit het in 2018 afgebrand en die restourasiewerk is in 2020 voltooi. Nieteenstaande 'n afname in toerisme die afgelope seisoen, het talle mense die tolhuis in Desember besoek.
Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, sê die nuwe paadjie help nie net gestremdes nie, maar ook bejaardes. "Baie besoekers is bejaard." Die paadjie is die inisiatief van Ken Gie wat help om die tolhuis meer geskik te maak vir gestremdes.
Patrick Botto, 'n lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Mond- en Voetskilders in George, was een van die eerste mense wat die paadjie gebruik het. "Ons is baie dankbaar vir Gerda en haar span wat ook dink aan mense in ons posisie."
Nog planne
Die jukskeibaan is voltooi en die plan is dat mense deelneem aan die tradisionele sport.
Daar word beoog om later, as die inperking dit moontlik maak, konserte te hou. Uitstallings by die tolhuis word elke maand afgewissel. Mense is welkom om skenkings vir die uitstallings te maak.
Inbraak
Op Vrydag, 29 Januarie, was daar in die vroeë oggendure 'n inbraak by die terrein. Danksy die vinnige optrede van ADT sekuriteitsmaatskappy, bygestaan deur die plaaslike buurtwag en die polisie, is die booswigte op heterdaad betrap.
Die slotte van twee van die waenhuise is afgebreek. In 2019 is 'n watertenk op die terrein gesteel. Sekerheid word verskerp.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'