Video
GEORGE NUUS en VIDEO - Die vrouens van Rosedale-plakkerskamp kry swaar weens die swak higiëne van die mobiele toilette in hul woongebied.
Van die vroue kry na bewering gereeld blaasinfeksie en moet hulself soms in die bosse verlig. Die toilette was onlangs oorvol en inwoners het gekla oor die verskriklike stank.
"Dis vrouemaand en dié vroue suffer," het Cynthia Bruinders, 'n gemeenskapsleier, gesê. Een van die inwoners, Norma Lewis, het gesê die probleem is dat skollies en tikrokers snags die toilette gebruik en 'n groot gemors maak. "Dit sou help as die vyf gesinne 'n sleutel het om die toestand van die toilet te beheer," het sy gesê.
"'n Ander kwessie is die waswater wat sommer in die pad gegooi word. Die kinders speel in die vuil waterpoele en raak siek. Ek gee nie om om hier te bly nie, ek wens net ons het meer krane en toiletgeriewe."
Die munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, het by navraag gesê dat ‘n nuwe diensverskaffer op 1 Augustus aangestel is vir die voorsiening van toilette binne alle informele nedersettings in George.
"Met die oorhandiging van die diens vanaf die een diensverskaffer na die ander het daar 'n misverstand tussen die twee instansies ontstaan en was die toilette twee dae later as normaalweg gediens," het sy gesê. "Die toilette word as ‘n reël twee keer per week gediens en is in terme van hierdie riglyn verlede week Maandag en Donderdag gediens. Die wyksraadslid het onmiddellik ingegryp toe die kwessie onder sy aandag gebring is en is reëlings getref om die toilette dieselfde dag (Woensdag 2 Augustus) te diens."
Die ratio van die toilette volgens die nasionale norm is 1:5 (een toilet word deur vyf gesinne gedeel). "Hierdie norm is in Rosedale uitgerol, met die uitsondering van gestremdes, bejaardes en baie siek persone wat elkeen hul eie toilet ontvang (ratio van 1:1)," het Edwards-Klose gesê. "Die munisipaliteit is in die proses om ‘n aansoek by die provinsiale owerheid in te dien ten einde van die nasionale regering se norm van 1:5 af te wyk sodat elke gesin hulle eie toilet kan hê. Spoeltoilette sal voorsien word sodra daar grootmaat dienste binne die ontwikkelingsgebied beskikbaar is en die opgemete erwe gediens is. Die beplanning ten opsigte van die voormelde is in ‘n gevorderde stadium."
Kyk 'n video hieronder.
'n Groep vroue van Rosedale-plakkerskamp ontmoet die George Herald by een van die vuil toilette. In die middel (voor) is Norma Lewis, Esmé Godfrey, Salomie Williams en Cynthia Bruinders.
* Female residents of Rosedale's informal settlement are asking George Municipality to step up during August, Women's month, and help them to obtain better toilet hygiene. Some of the mobile toilets are in a terrible condition. The national ratio for toilets in townships is one toilet per every five households. It is the residents' own responsibility to keep the toilets clean. Municipal Spokesperson Chantel Edwards-Klose said the municipality is in the process to apply to the provincial government to deviate from the national norm, to enable each family to have its own toilet.
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'