‘n Vlaghysing het die verrigtinge afgeskop waarna verskeie borge truie aan die ‘n klomp opgewonde sportspanne oorhandig het.
Agt sokkerspanne, drie netbalspanne en vier rugbyspanne het mekaar die stryd aangesê in ‘n aantal vriendskaplike wedstryde.
Die gasspreker, brig. Gina Smith, bevelvoerder van die George Polisie, het in haar toespraak gesê dat die beste rolspeler in 'n kind se lewe sy ouers is. Sy het ouers aangemoedig om elke kind in die gesin 'n regverdige kans in die lewe te gee en ook die jeug uitgedaag om vir hulleself hoë standaarde te stel en hulle nie blind te staar teen hulle omstandighede nie.
Mnr. Weeber Truter, voorsitter van Agri Herold en Klein-Karoo, het die polisie van Herold geloof vir wat hulle vir die omge-wing doen en gesê dat Agri saam met hulle en ander plaaslike rolspelers hande vat om 'n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak.
Mev. Ingrid Parks van die Departement Maatskaplike Ontwikkeling, het na die nuwe wet op kinderbeskerming verwys en gesê elke ouer is verantwoordelik om toe te sien dat sy kind skool toe gaan, beskerm word en liefde en aandag ontvang. Aan die jeug het sy gesê:
"Die toekoms is in julle eie hande. Julle moet die regte keuses uitoefen en die gevolge daarvan dra."
Sy het die gemeenskap uitgedaag om te streef na ‘nul persent’ kinderverwaarlosing en -mishandeling.
Verskeie stalletjies, beman deur skool- en kerkgroepe, het gesorg vir heerlike versnaperings.
.jpg)
Christo van Rensburg (Agri George) en brig. Gina Smith oorhandig sokkertruie aan Shawn Moos van Grootfontein Sokker.
.jpg)
Mnr. Weeber Truter (voorsitter, Agri Herold en Klein-Karoo) oorhandig rugbytruie wat Agri geborg het aan Arnols Bruiners van Herold Rugby.
.jpg)
Ds. Gert Nothnagel en sy vrou Margie het die gaste by die Herold GPF se jeugdagvieringe met tee en verversings in die pastorie verwelkom. Van links is Weeber Truter (voorsitter, Agri Herold en Klein-Karoo), brig. Gina Smith (bevelvoerder, George Polisie), mev. Ingrid Parks (Departement Maatskaplike Ontwikkeling) en kapt. Gloria Muller. Agter is ao. Morne Heunis (Herold SAPD). Foto's: Juanita van Wyk