Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Tertuis Simmers, wat oorspronklik van die Tuinroete kom en noue bande met George het, beklee sedert die naweek een van die invloedrykste posisies in die Wes-Kaapse politiek.
Hy is onbestrede verkies tot die interim leier van die DA, die regerende party in die Wes-Kaap.
Hy sal die pos beklee tot die party se volgende provinsiale kongres wat waar-skynlik eers in 2023 of 2024 gaan plaasvind.
Simmers se verkiesing beteken dat die twee belangrikste DA-leiersposte in die Wes-Kaap deur inwoners van die Tuinroete beklee word. Jaco Londt is reeds in November 2020 tot DA-voorsitter verkies.
Die 39-jarige Simmers het sedert Januarie waargeneem as leier nadat daar woelinge rondom Albert Fritz, toe die LUR vir gemeenskapsveiligheid ontstaan het. Fritz het intussen die politiek verlaat en 'n nuwe interim leier moes aangewys word.
Simmers is deur al drie DA-streke in die provinsie genomineer. Die proses is Sondag 17 April om 12:00 afgehandel.
Maandag 18 April was Simmers reeds hard aan die werk in sy nuwe uitdaging en hy het openhartig met George Herald gepraat oor die pad vorentoe.
VIDEO - Tertuis Simmers in nuwe pos:
Een van sy groot fokuspunte is nou voorbereidings met die oog op die 2024-verkiesing. Daar is net bietjie meer as 700 dae oor voor die verkiesing.
Hy glo die party het potensiaal om meer te groei in die provinsie, maar dan sal elke lid en struktuur hul kant moet bring.
Daar is uitdagings en alle politieke partye wat groei, beleef dit. Hy het destyds by die politiek betrokke geraak om verandering in die gemeenskap te probeer bewerkstellig. Dit is steeds sy motivering. Alle besluite wat hy neem is om 'n groter impak op die breër gemeenskap te maak.
Simmers het benadruk dat Covid-19 'n groot impak gehad het op hoe politieke partye funksioneer. Daar is en word nou op innoverende wyse gekyk hoe om met die kiesers te kommunikeer.
As interim leier het hy 'n aantal beginsels/vertrekpunte. Dit sluit in dat "herkontak" gemaak word met die kiesers en die party se strukture moet herbou word. Nie net intern nie, maar ook die strukture in die gemeenskap.
Nog 'n belangrike beginsel vir hom is dat die DA se stembasis verbreed moet word. Volgens hom is die realiteit dat in die 2021 munisipale verkiesing was dit duidelik dat die party se stemme in die provinsie gestabiliseer het. Hy wil die mark verbreed en glo dit kan gebeur. Die mikpunt vir die 2024-verkiesing in die provinsie is nie net om die mag te behou nie, maar ook sy steunbasis te vergroot.
'n Belangrike segment is die jonger kiesers wat bereik moet word. "Ons jongmense wat in die 2024-verkiesing 18 jaar en ouer gaan wees moet die waarde van hul stemme in die Wes-Kaap besef." Dit kan ook 'n impak hê op nasionale vlak. Die jeug se stemme kan 'n aanduiding gee van waarheen die land op pad is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'