Update
GEORGE NUUS - Sy was 'n wiskundeonderwyser by uitstek en haar dood het baie verslae gelaat. Sedert die nuus oor die ontydige en tragiese dood van Jo Hartman (93) bekend geword het, is George Herald se Facebook-blad met boodskappe van medelye en simpatie aan die familie oorval.
Hartman is op Saterdag 16 September oorlede toe 'n reusebrander haar en ander omstanders van hul voete afgeslaan het in die parkeerarea by Leentjiesklip in Wilderness.
Sy is sowat 200m oor die parkeerarea deur die brander meegesleur.
Hartman, 'n afgetrede onderwyser van Hoërskool Sentraal in Bloemfontein, wat na Welgelegen in George verhuis het, was saam met haar dogter Ronell Lindemann in Wilderness om, soos baie ander, na die see te kyk.
Die voorval het plaasgevind te midde van uiterste seetoestande en massiewe golwe wat verwoesting oor die Tuinroete-kuslyn en ander dele van die Wes-Kaap gesaai het.
Ten spyte van geweldige pogings van omstanders en mediese personeel om haar lewe te red, is Hartman kort ná die voorval met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar. 'n Vriend van die familie, Jaco Joubert, is erg beseer en na die hospitaal geneem. Hy is egter reeds ontslaan en sterk by die huis aan.
Lindemann het drie ribbes gebreek.
Paul Louw, Hartman se seun en stadsbeplanner by Hessequa-munisipaliteit, het na die voorval gesê dat dit als vir hulle onwerklik voel.
"Dit het so vinnig gebeur. Die een oomblik was sy daar en die volgende oomblik was sy weg, maar ons is dankbaar daar was geen lyding nie."
Baie geliefde juffrou
Hartman was 'n geliefde en gerespekteerde onderwyser. Volgens die skoolhoof van Hoërskool Sentraal, Johan Vorster, het Hartman se dood die skool en die gemeenskap van Bloemfontein diep geraak.
"Dit is met groot hartseer dat die skool en die gemeenskap van Bloemfontein moes kennis neem van die tragiese afsterwe van een van die skool se legendariese wiskundeonderwysers," het Vorster gesê.
Hartman het haar skoolopleiding in 1948 op Koffiefontein voltooi waarna sy aan die Universiteit van die Vrystaat studeer het. Sy was getroud met Kommandant Johan Louw wat ongelukkig oorlede is toe hul drie kinders nog baie jonk was.
Daarna het sy haar onderwysloopbaan aangepak en in 1969 by Hoërskool Sentraal begin waar sy vir 25 jaar 'n sleutelrol in die wiskundedepartement vervul het.
"Sy het haar baie goed van haar taak gekwyt en meegehelp dat die standaard van wiskundeonderrig aan Sentraal van die beste in die Vrystaat geword het," sê Vorster.
In 1974 trou sy met John Hartman. Hy is 15 jaar daarna oorlede.
"Sy het 'n groot invloed gehad op baie kinders van reg oor die wêreld. Haar onderrig was uiters, uiters gesog en sy het vir baie kinders baie deure oopgemaak. Haar dood is 'n groot verlies en ons koester kosbare herinneringe aan mev. Hartman. Ons groet jou, tannie Jo, met groot respek."
Ooggetuie vertel
'n Ooggetuie, Tanya Rossouw, het ná die voorval aan George Herald gesê dat dit alles bitter vinnig gebeur het.
"Die lewe verander in 'n oogwink," sê Rossouw, wat in die middelste gedeelte van die parkeerarea in haar motor gesit het toe die voorval voor haar afspeel.
Tanya Rossouw se Mahindra-bakkie staan Dinsdag op presies dieselfde plek geparkeer vanwaar sy Saterdag, 16 September, die dramatiese foto van die reuse fratsgolf by Leentjiesklip geneem het.
Rossouw het om 15:30 by Leentjiesklip gestop om 'n paar foto's van die see te neem.
"Die branders was in daardie stadium hoog, maar het nie oor die parkeerarea gekom nie. Omstreeks 16:50 het 'n reusebrander oor die parkeerarea gebreek en omstanders getref. Die water het selfs bo-oor my bakkie gespoel," vertel sy.
Tanya Rossouw
Rossouw het besef dat van die omstanders hulp nodig het en dadelik uit haar voertuig gespring om te help. "Die tannie [Jo Hartman] was sopnat, maar nog by haar bewussyn. Nog 'n man was erg beseer. Nog 'n persoon het my gehelp en ons kon die tannie na my bakkie neem terwyl ons vir die ambulans gewag het."
Volgens Rossouw het die ambulans nie lank geneem om op die toneel aan te kom nie, maar teen daardie tyd het Hartman reeds haar bewussyn verloor.
Begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bekend nie.
Die reuse fratsgolf stort oor tot in die parkeerarea by Leentjiesklip terwyl sowat agt mense na veiligheid probeer vlug. Foto: Tanya Rossouw
So het Tanya met haar selfoon in die hand in haar voertuig gesit toe sy die foto geneem het.
'n Boodskap vanaf Hoërskool Sentraal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’