Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die reuk en smaak van heerlike braaivleis het Saterdag 10 April ’n groot glimlag op die gesigte van talle van George se bejaarde inwoners gebring toe die Vryburgers se jaarlikse Tamaaibraai plaasgevind het.
Vanjaar was dit die derde keer wat dit plaasgevind het. Weens die Covid-19-situasie kon dit nie ongelukkig nie verlede jaar plaasvind nie.
Vure is reeds van vroeg af deur lede van George Vryburgers by vyf van die tehuise, Tuiniqua, Rosemoor, JJ Watson, ACVV Harmonie en Thys Jacobz in Hoekwil aangesteek.
Later is lamsvleis en wors deur die lede van die organisasie gebraai en kon die bejaarde inwoners terugdink aan die dae toe hulle self 'n vleisie op die kole gebraai het.
Fotogalery: Vryburgers se jaarlikse Tamaaibraai
Marius Venter, stuurman van die George Vryburgers, het gesê dis 'n nasionale projek van die Vryburgers en sowat 2 700 bejaardes is landwyd bevoordeel. In George is vir sowat 500 bejaardes vleis gebraai.
"Ons bejaardes het die brug gebou waaroor ons tans beweeg en dit bly ons taak om vir hulle dankie te sê. Die bejaardes het baie vir die land gedoen.
"Die Vryburgers van George het die grootste getal tehuise gehad en het beslis 'n sukses daarvan gemaak. Die tehuise het Tuiniqua (185), Rosemoor (95), JJ Watson (73), ACVV Harmonie (57) en Thys Jacobz (Hoekwil - 66) ingesluit.
"Die George Vryburgers het 11 lammers ter waarde van oor die R20 000 aangekoop en wors van oor die R4 000 om die bejaardes te bederf," Venter gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Die terugvoering wat hulle ontvang het, was baie positief. Benewens die braaivleis, was daar ook vermaak en selfs musiek is gemaak. Dit was ook 'n geleentheid vir sosiale interaksie.
Hy het benadruk dat hulle van skenkings en fondsinsamelings afhanklik is om 'n dag soos die Tamaaibraai moontlik te maak. Hy het die publiek bedank vir hul hulp. Die plan is om dit weer aanstaande jaar in April aan te bied.
Altesaam vier Audio Bybels ter waarde van R550 elk is aan bejaardes, wie se sig hulle nie meer toelaat om fisies die Bybel te kan lees nie, oorhandig.
Alani Voigt, bestuurder van Tuiniqua, het gesê dis 'n geleentheid waarna inwoners baie uitsien. "Dis 'n bederfdaggie vir hulle. Dis 'n groot, groot bederf en 'n ekstra lekkerte om 'n skaaptjoppie te kry. Dit laat hulle spesiaal voel en terugdink aan die dae toe hulle by hul eie huise 'n vleisie kon braai."
By Tuiniqua-versorgingsentrum is die vure reeds vroeg aangesteek. Van links is Nico du Plessis, Marius Venter, Otter van der Walt, Alani Voigt en Casper de Waal. Voigt is die bestuurder van Tuiniqua. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'