Gallery
GEORGE NUUS - Daar's 'n tyd om te kom en 'n tyd om te gaan. Ná 35 jaar in diens van die Suid-Afrikaanse polisie het die tyd aangebreek vir adjudant-offisier Martin Peterse (59) om die tuig neer te lê.
Peterse, wat onder sy kollegas beter bekend is as Sweetie, het in 1983 by die spoorwegpolisie aangesluit. 'n Jaar later word hy na die lughawe verplaas. In 1986 word die spoorwegpolisie met die Suid-Afrikaanse polisiediens geïntegreer en in 1992 begin Peterse by die George-honde-eenheid. "Ek het by die honde-eenheid aangesluit as 'n plofstofhond-hanteerder. Daana het ek patrollie-honde hanteer en toe begin met dwelmhonde. Daar is niks wat ek in my loopbaan sou wou verander nie. Ek geniet dit steeds, maar dit is nou tyd om klaar te maak," vertel hy.
Peterse tree aan die einde van Junie af as die oudste operasionele lid in die Suid-Afrikaanse honde-eenheid. Hy studeer sedert 2015 teologie en wil daardeur homself verryk en die boodskap oordra.
"Ek wil mense inspireer om die regte ding te doen. Ek is 'n mense-mens en diereliefhebber en gaan beslis by die gemeenskap inskakel om verder 'n verskil te maak," sê hy.
Adjudant-offisier Martin Peterse en Roxy.
Volgens Peterse se bevelvoerder, luitenant-kolonel Caryn Kritzinger, is Peterse uiters lojaal en 'n ware staatmaker.
"Hy is voorwaar 'n staatmaker en skroom nooit om te help nie. Hy is die spilpunt in die kantoor en lig altyd die stemming in die kantoor. Ons gaan hom mis. Jy het altyd eers sy lag gehoor voor jy hom gesien het," sê sy.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'