GEORGE NUUS - Die 87-jarige Samuel (Swannie) Swanepoel het Vrydag sy vierde publikasie in die afgelope vier jaar bekendgestel.
Loeriefontein se mense speel af in die vroeë 19de eeu en vertel die verhaal van 'n jongman wat besef dat sy ouer broer hul familieplaas gaan erf.
Hy besluit om uit te spring en sy eie ding te doen, en bou sy eie plaas op tot die modelplaas, Loeriesfontein.
Die jong boer is 'n ware pionier wat na die binneland trek, weg van die Kaap de Goede Hoop om onder Engelse beheer weg te kom.
Sy verhaal is een van avontuur en groot uitdagings wat hy te bowe moet kom.
Die boek is losweg gebaseer op Swanepoel se eie lewe.
As jong prokureur het hy sy droom om 'n plaas te koop verwesenlik, en 'n suksesvolle vakansieplaas daar gevestig wat hy en sy vrou, Joey vir baie jare bedryf het.
Swanepoel het die boek opgedra aan sy vrou, drie kinders, agt kleinkinders, 11 agterkleinkinders asook vriende en familie wat hom aanmoedig en ondersteun.
Hy het sy skryftalent eers vier jaar gelede begin ontdek en uitleef toe hy sy lewensverhaal op versoek van sy kinders neergepen het. Sedertdien vloei die woorde maklik, sê hy.
"Ek skryf 04:00 soggens wanneer die Here my wakker maak. Dan kom die gedagtes en woorde net. Ek moet dit net dadelik neerskryf anders is dit uit my kop uit."
My memoires van 'n reis oor tagtig jaar het in 2013 verskyn en daarna 'n digbundel met 69 gedigte en ballades, Krale van klip (2015).
In 2016 is eerste roman, Tirsa van Salomo (2016) gepubliseer.
Swannie Swanepoel tydens die bekendstelling van sy boek met drie van sy vriende, Inge Pilskog (links), Cliff Buchler (naasregs) en Leon Pio.
"Ek het nou 'n bundel van vyf kortverhale in gedagte, maar eers wil ek 'n digbundel uitgee met van my beste nuwe asook ouer gedigte," sê die nimmereindiger.
Loeriesfontein se mense is deur Kreativ SA uitgegee. Dit kos R285 en belangstellendes kan dit by Swanepoel kry by 044 004 0204 (saans).
Die Swanepoel-egpaar is deesdae inwoners van die versorgingsoord van die Kraaibosch-landgoed waar die boek tydens 'n klein funksie bekendgestel is.
ARTIKEL & FOTO: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'