Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die strande van Kleinkrantz tot by Leentjesklip in Wilderness, is onbepaald gesluit.
Dit volg nadat ‘n Boggelrugwalvis van kant gemaak moes word.
Die walvis het Vrydagmiddag omstreeks 17:00 op die strand by Wilderness uitgespoel.
Saterdagoggend is besluit om die walvis van sy lyding te verlos. Genadedood is op die dier, wat in die vlak water was, toegepas. Dit is gedoen deur middel van ‘n beheerde ontploffing wat deur plofstofdeskundiges van die Suid-Afrikaanse polisie uitgevoer is. Volgens ingeligtes op die toneel was dit beste manier om die dier van sy lyding te verlos.
Die strand waar die walvis uitgespoel het is reeds na die voorval afgekordon.
Kort na 12:00 het die plofstofdeskundiges opgedaag en die plofstof by die dier geplaas.
Talle vakansiegangers en nuuskieriges het die ontploffing op ‘n veilige afstand dopgehou. Die kragtige ontploffing het talle mense na hul asems laat snak.
Daarna het kundiges monsters van die karkas geneem wat weggestuur sal word vir ontleding.
Munisipale werkers het daarna begin om die karskas op te saag. Dit is verwyder en op ‘n ander plek gaan begrawe.
Die strande is gesluit as gevolg van veiligheidsoorwegings. Daar is onder meer kommer dat die bloed in die water haaie kan lok.
Terwyl die karkas opgesaag is, was daar oral bloed in die water.
Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, sal die George-munisipaliteit besluit wanneer die strande weer oopgestel sal word. Hulle sal ‘n aankondiging daaroor maak.
By een van die ingange by die Wildernis-strand het ontstoke vakansiegangers aangedring op antwoorde. Hulle is meegedeel dat in die stadium is dit onmoontlik om aan te dui wanneer dit gaan gebeur.
“Dit help my niks. Ek ry more terug,” het ‘n vakansieganger gesê.
Lieze Swart, ‘n hooftegnikus van die department omgewingsake, het aan die George Herald gesê dit lyk of die walvis in elk geval in ’n swak toestand was. Daar is ’n reeks dinge wat verkeerd kon gewees het.
Daar is besluit om die walvis van kant te maak met plofstof want dit was die vinnigste wyse om hom van sy lyding te verlos. As dit ‘n kleiner soort dier was, kon ‘n vuurwapen gebruik word.
As die walvis met ‘n vuurwapen geskiet is, sou hy nie noodwendig dadelik dood gewees het en verder gely het.
Kyk 'n video hieronder.
'n Laaigraaf verwyder die karkas van die walvis op die Wilderness-strand. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'