GEORGE NUUS - Planne is in die pyplyn om 'n steungroep vir mense wat gebruik maak van prosteses in George en in die Suid-Kaap te stig. Daar word gehoop om so, 'n prostese-gemeenskap te vestig.
'n Prostese word baie eenvoudig beskou as 'n kunsledemaat wat gebruik word nadat 'n ledemaat van 'n persoon geamputeer is. Na raming is daar sowat 70 tot 80 mense in die gebied wat gebruik maak van prosteses in privaat praktyke. Daarby is nie ingereken mense wat van staatshulp gebruik maak nie.
Danièlla de Jager van Barkley Oates Inc het by navraag bevestig dat aan sulke planne gewerk word. Sy het benadruk dat dit vir alle mense sal wees wat gebruik maak van prosteses en nie net vir pasiënte van die maatskappy nie.
De Jager en haar kollegas, Mike Barkley en Allan Oates, het onlangs die idee gekry en die bal aan die rol gesit.
"Die doel van die groep is om ondersteuning en 'n steunstelsel te verskaf. Mense in so 'n situasie moet besef hulle is nie alleen nie," het De Jager gesê. Dit sal voorsiening maak vir mense met alle soorte prosteses, van arm- tot beenamputasies.
Die plan is om nie net mense wat prosteses gebruik te betrek nie, maar ook hulle familie, vriende en ander belanghebbendes.
Danièlla de Jager en Mike Barkley van Barkley Oates Inc. Photo: Eugene Gunning
Buiten hulp in groeps-verband, is De Jager en Sefan Viljoen, 'n bekende onderwyser op Oudtshoorn wat 'n linkerbeen amputasie het, besig om die eerste byeenkoms te reël. Elke byeenkoms sal anders wees van die eerste.
Daar word beplan dat die eerste byeenkoms 'n kort stap van 3 km in George sal wees.
Mense wat belangstel om betrokke te raak kan 066 155 2134 skakel of 'n SMS stuur vir meer inligting. Die afsnydatum is 31 Maart.
Danièlla de Jager en Allan Oates van Barkley Oates Inc.
Stephan Viljoen, 'n bekende onderwyser van Oudtshoorn wat 'n linkerbeen amputasie het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'