GEORGE NUUS - 'n Groepie dramaleerders van Parkdene Senior Sekondêr is in hulle noppies nadat hulle kortfilm, Toue en kloue die top-10 gehaal het in Paul Roos Gimnasium se Filmit-kompetisie.
Die span van sewe vra die publiek van George om na hulle film op Paul Roos se YouTube-kanaal te gaan kyk waar dit saam met die 18 ander inskrywings te sien is.
Die wenner word binnekort aangewys en Georgiete kan help om kanse op 'n topposisie vir Parkdene te verhoog deur hulle film te 'like'. Die publiek se stem tel 10% in die algehele beoordeling en die sluitingsdatum vir likes is Vrydag 5 November.
Tanita da Silva, drama-onderwyser by die skool, sê sy is baie trots op die groep se skeppende vermoë. "Hulle het nie soos van die ander skole meer gesofistikeerde toerusting nie, maar het die hele film met 'n selfoon opgeneem. Hulle moes alles self doen."
Sestig skole wat wou inskryf, moes 'n voorlegging van twee minute indien om hulle konsep bekend te stel. Slegs 20 is gekies en 19 het uiteindelik hulle projekte voltooi.
Die spelers in Toue en kloue is Tammi-Lee Sabat, Lifa Madumane, Gustaviano Appels, Teagan Arendse, Rivaldo Hendricks, Mark Claassen en Gihaan Steenkamp. Gustaviano is die regisseur en Tammi-Lee draaiboekskrywer. Jean Adonis het die verfilming gedoen.
Gihaan sê dit was 'n groot voorreg en opwindend om saam met die span te werk. "Ek is bly ons het Parkdene Sekondêr se naam hoog gehou en dat ek deelgeneem het, want oor 10 of 20 jaar gaan dit een van my beste memories van my skooljare wees."
Mark meen dit was vir hom 'n goeie ervaring want daar is min jongmense wat sulke geleenthede kry. "Dis 'n voorreg. Ek het my rol baie geniet."
Vir Gustaviano was die ervaring een groot plesier. "Ek hoop en bid nou vir meer likes!"
Storielyn
Die groep som hul storie soos volg op: "Dit speel af in 'n agtergeblewe gebied waar dwelms, bendes en armoede 'n groot rol speel. Lira, 'n voorbeeldige student, se lewe verander handomkeer wanneer sy uitvind dat die pa wat sy nooit geken het nie, leef.
Sy begin elke oomblik van haar lewe haat en verhoudings met haar klasmaats versuur. Saam met medeklasmaats, wat elk met hul eie probleme worstel, probeer sy sin maak uit die jongmenslewe.
Hulle probeer almal ontsnap uit die kloue van die hedendaagse lewe. Is 'happily ever after' dan net vir sekere mense bedoel?"
Die skakel na die film op YouTube is hier.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'