Die stegie strek van Yorkstraat na die hoek van Cornish- en Malbarstraat, tussen die Yorkston- en Malbar Square-woonstelblok.
Tydens die George Herald se besoek Dinsdagoggend was die stegie vol gemors en besaai met menslike afval teen beide mure. Volgens Lydia Payne, 'n woonsteleienaar van Yorkston-woonstelle, kamp haweloses smiddae daar uit. Payne en haar buurvrou, Marietta Janse van Rensburg, sien ook gereeld tieners in die stegie wat van sowat 11:00 in die oggend daar saamdrom.
"Hierdie kinders rook dagga, gebruik tik en baklei gereeld met mekaar. Ek het my eie dogter belet om in die tuin te sit as ons nie daar is nie," het Janse van Rensburg gesê.
Inwoners van beide woonstelblokke het vroeër vanjaar 'n petisie geteken wat glo aan die George-munisipaliteit oorhandig is, het Payne gesê. Die inwoners het gevra dat die stegie toegemaak word, om die "onwelkome elemente" uit te hou.
"Daar het niks van gekom nie," het Payne gesê. Die munisipaliteit het teen druktyd nog nie op navrae van die George Herald gereageer nie.
Dewald Hattingh, 'n lid van die beheerliggaam vir die Malbar Square-woonstelblok en self 'n woonsteleienaar, het gesê dat hierdie probleem nou al jare aankom. Die beheerliggaam, in samewerking met ander inwoners, het die petisie begin in 'n poging om 'n oplossing vir die situasie te vind.
"Die stegie dien ook as 'n ontsnappingsroete vir booswigte en skelms wat in die woonbuurt inbreek, en dan vir die buurtwag weghardloop," het hy gesê.
"Die munisipaliteit wil hê dat ons as beheerliggaam moet aansoek doen om die serwituut te lig, wat die munisipaliteit tans op 'n deel van daardie stegie het. Ons dink dit is onnodig, en geldmors. Dit sal duisende rande kos om te doen."
Volgens Hattingh is die perfekte plan om aan beide kante 'n hek aan te bring, waarvan inwoners van die omgewing - sowel as die munisipaliteit, 'n sleutel het.
"Ons sal graag geld spandeer om die stegie met blombeddings mooi te maak. Nou is dit nie moontlik nie," het hy gesê.
*An alley between two blocks of flats in Dormehlsdrift, connecting York Street with Cornish and Malbar Street, has residents at the end of their tether. Vagrants have been using the alley as a toilet and sleeping place for years, according to flat owner Dewald Hattingh. A petition to close the alley with gates on either side has not yet received a positive response from George Municipality, said Hattingh.
Een van vele voorbeelde van menslike ontlasting wat in die stegie voorkom. Foto: Michelle Pienaar
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'