Update
GEORGE NUUS - Sowat 50 mense het Sondag 22 Desember die staptog teen moorde in Borcherds bygewoon.
Die staptog is gereël na aanleiding van verskeie geweldsmisdade, veral moorde, in die area die afgelope tyd.
Een van die organiseerders, Linda Smit, het vroeër gesê daar is omtrent elke naweek ‘n moord of slagting in Borcherds. “Bendegeweld is aan die orde van die dag. Ons wil hiermee ons gemeenskap terugneem en vrede hê. Die woord van God verklaar immers, “Not by might, not by power but by the Spirit of God. In Kaapstad het inwoners die weermag se hulp ingeroep, maar in Borcherds wil ons met die staptog saam in gebed vir God roep. God sal vir ons stry…” het Smit gesê.
Aan die inwoners wat Sondag opgedaag het, het Smit ook die belangrikheid van die rol van ‘n pa beklemtoon. “Dis hartseer dat so baie pa’s hulle kinders van kleins af reject. Dit maak dat die kinders ‘n wrok opbou en dis dan dat die jongelinge weerloos en gou vatbaar raak vir die verkeerde dinge in die lewe.”
Sy sê ‘n pa moet daar wees om sy kind stabiliteit te gee, om veral seuns se rolmodel te wees.
“Hier is baie mans in Borcherds wat dit in hulle het om die kinders te kan leer om weg te bly van dwelms en dit wat verkeerd is, maar hulle leer eerder die kinders die verkeerde goed. Kom ons begin by dagga... die "baie onskuldige groen kruietjie"....maar as ons kyk na die negatiewe invloed wat dit op ons kinders, begin ouderdom vanaf 9 jaar oud, het. Baie keer is ons as mammas ook die oorsaak dat my goedopgevoede kind slegte maniere ontwikkel want as die situasie kom waar ek my kind positief kan beïnvloed, dan doen ek die verkeerde ding. In plaas van die kind leer om weg te stap van ‘n geveg, hits ek die kind aan om te baklei of baklei sommer saam met kind,” sê Smit.
Sy sê kinders raak soms betrokke by bendes weens groepsdruk of verwerping of om “in te wees”. “Ons kinders het drome en talente, maar hulle kry nie die kans of geleentheid om dit te ontwikkel nie en dit frustreer hulle. Daar moet ‘n oplossing kom. Die kerke, munisipaliteite en die regering moet help. Die regering moet kyk na meer rehabilitasiesentrums waar dwelmverslaafdes hulp kan kry. Nie alle ouers het duisende rande om hulp vir hulle kinders te kry nie.”
Sy sê en terwyl ouers hulpeloos toekyk hoe hul kinders in die web van dwelms vasgekeer is, floreer die dwelmhuise; en die dwelmbase het ons mense finaniseel in ‘n greep. Dit moet stop gesit word,” het Smit afgesluit.
Inwoners van Borcherds wat die staptog teen geweldsmisdade bygewoon het. Foto’s: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'