Gallery Update
GEORGE NUUS - Wagte by die Rosemoor-stadion is verlede week na bewering deur ses mans, gewapen met messe en pangas, aangeval en beroof, waarna hulle in 'n plundertog skade van sowat R750 000 aan die perseel aangerig het.
Granville Campher, munisipale sportbestuurder, het die gebeure wat verlede Dinsdag, 21 Julie, plaasgevind het, bevestig. Ruite is uitgeslaan, wasbakke, pype en stortkoppe is afgebreek, krane is gesteel en elektriese infrastruktuur is beskadig. Water het die hele perseel oorstroom.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het egter gesê dat slegs 'n saak van diefstal, wat deur die polisie ondersoek word, 'n dag na die beweerde voorval aangemeld is.
"Die omstandighede rondom die beweringe word tans ondersoek. Ons doen 'n beroep op enigiemand wat oor inligting beskik om die speurders van Conville-polisie te kontak by 044 803 3301 of Stop Misdaad by 08600 10111. Alle inligting word as vertroulik hanteer," het Pojie gesê.
Op 'n vraag of enige roof- en of aanrandingsake aangemeld en ondersoek word, het Pojie geantwoord: "Op die stadium is slegs 'n diefstalsaak geopen vir ondersoek, maar die beweringe van die roof en aanval op die wagte sal deel uitmaak van die ondersoek noudat dié inligting aan die lig gekom het."
Fotogalery: Vandale verwoes Rosemoor-stadion
George Herald kon teen spertyd na vele probeerslae daarin slaag om 'n streekbestuurder van die sekerheidsmaatskappy, wat tans uitstedig is, in die hande te kry.
Die bestuurder kon nie die voorval bevestig nie, maar het onderneem om meer oor die voorval uit te vind.
Water het die hele perseel oorstroom.
Woede
Rosemoor-sportstadion is 'n plek wat vir die gemeenskap talle mooi herinneringe inhou, maar is nou binne 'n ommesientjie vernietig. Op die Facebook-groep, Rosemoor Staan Saam, het inwoners hul woede oor die voorval laat blyk.
Sommige spekuleer dat kansvatters juis nou sou toeslaan nadat die muur om die stadion ineengestort het tydens die stormsterkwinde wat onlangs dwarsoor die Wes-Kaap gewoed het.
"Dit was my einste vrees nadat die muur omgewaai het," het die George-raadslid Wilbur Harris, op Facebook geskryf. Die vermoede bestaan dat die skuldiges self ook inwoners van die woonbuurt is.
Een Facebook-inskrywing lui as volg: "Ek sê weer die skelms van hier rond is gemaklik. Dan kry ons mense in ons gemeenskap wat hulle nog beskerm... Daai kon iemand se huis gewees het, ons kerke, ons skool."
Op 'n vraag of booswigte juis nou hul kans waarneem aangesien die stadion nie meer as skuiling vir haweloses benut word nie, het Campher gesê die vermindering in aktiwiteite op die sportterrein tydens grendeltyd bied 'n groot uitdaging.
"Die sportafdeling is besig om uit te reik na die sportklubs om te help met die voorkoming van vandalisme en ander kriminele aktiwiteite," het hy gesê.
Wasbakke is gebreek en krane is gesteel.
Nog 'n gebreekte wasbak in 'n badkamer by Rosemoor-stadion.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'