GEORGE NUUS - Buurtwagte van Rosemoor, Borcherds, Parkdene, Proteapark, Le Vallia en Conville, asook die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), voer oor naweke gesamentlike operasies uit om hul woonbuurte te beveilig en toe te sien dat inwoners die Covid-19-regulasies nakom.
"Saam met die buurtwagte bereik ons goeie suksesse, maar dit is ontstellend hoe sommige inwoners, verál sommige taverne-eienaars, nie by die reëls bly nie," sê Wilken Wiltshire van die Conville-GPF.
Om die naweekoperasies aan te pak, gebruik buurtwagte en die GPF meestal hul eie voertuie.
"Van ons lede het besighede genader vir hulp en gemeenskapslede gekry om Nelson Mandela-boulevard teen grypdiewe te beskerm. Kriminele en dié wat kies om reëls te breek, moet maar op hul pasoppens wees," sê Wiltshire.
Vir inligting, of om deel te word van die patrollies, kontak Fadley Fortuin by 082 413 4365, Rudy Lewis by 061 977 6098 of Ben Robertson by 079 656 6666.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'