Update
GEORGE NUUS - Die skielike en onverwagse dood van Leon Stanvliet by die Ironman-kompetisie in Port Elizabeth het skokgolwe in sportkringe en onder inwoners gestuur. Die 62-jarige Stanvliet is beskryf as 'n gesonde man en iemand wat nog steeds baie aktief aan sport deelgeneem het.
Stanvliet en nog 'n deelnemer, Andre Trichardt van KwaZulu-Natal is Sondag in die hospitaal dood nadat hulle in die moeilikheid beland het tydens die swem gedeelte van die kompetisie.
Sedert die nuus van Stanvleit se afsterwe bekend geword het, het verskeie mense op sosiale media met skok gereageer. Hulle het net lof gehad vir die gewilde sportman van Heroldsbaai. Stanvliet se jonger broer, Ettienne het ook Sondag deelgeneem.
Stanvliet se vrou, Aletta, 'n staatsaanklaer, het aan die George Herald gesê sport was haar man se lewe. Hy was 'n uitstekende sportman en het in enige sport aangepas. Hy het onder meer deelgeneem aan hardloop, swem, fietsry, muurbal en tennis.
Hy het voorheen ook al aan die Ironman-kompetisies deelgeneem en ook die Comrades-ultramarathon voltooi. Volgens haar was haar man gesond en glad nie siek nie. Hy was 'n sielkundige, maar hy het nie die afgelope tyd gepraktiseer nie.
Die egpaar het twee kinders - 'n seun en 'n dogter - wat beide studente is. Stanvliet is die oudste van drie kinders. Hy het 'n jonger suster wat in Amerika woon en 'n jonger broer, Ettiene wat op Stellenbosch woon.
Sy het gesê begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie. Sy het intussen haar dank uitgespreek teenoor almal wat medelye uitgespreek het en belangstel.
Johann du Preez wat ook Sondag deelgeneem het, het vertel dat hy Sondagoggend nog voor die swem gedeelte vir Stanvliet gesien het. "Hy het my so 'n ligte stampie gegee en gevra: Is jy reg partner?"
Toe Du Preez later aan die hardloopitem deelneem het hy gehoor Stanvliet is dood en dit was vir hom 'n groot skok.
Volgens Du Preez was Stanvliet rateltaai. "Hy was altyd reg vir enige uitdaging en sielkundig gereed. Hy het 'n droë humorsin gehad en hy het jou op jou gemak laat voel in moeilike omstandighede. Hy het nooit gestress nie."
Hugo Redelinghuys, die George Herald se sportredakteur het Stanvliet geken uit sy studentedae op Stellenbosch waar hulle in Majuba koshuis was. Hulle het ook saam op die huiskomitee gedien.
'n Paar jaar gelede het hulle mekaar weer hier in George raakgeloop. Stanvliet hom eers so 6 jaar gelede weer gebel. "Hy het gesê: Hugo, dis Horsefly." Dit was Stanvliet se bynaam.
Redelinghuys het Stanvliet beskryf as 'n goeie sportman en 'n goeie luisteraar. Hy was ook altyd bereid om te help.
Volgens Redelinghuys is hy verpletter deur sy eertydse studentemaat se dood. "Dis so onwerklik."'
Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het gesê die na-doodse ondersoek is afgehandel en daar word nou vir die verslag gewag.
Lees 'n vorige artikel: Local dies in Iron Man competition
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'