GEORGE NUUS - Die impak van groot sportgebeurtenisse en ontspanning in die Outeniqua-natuurreservaat is onrusbarend, sê 'n plaaslike omgewingswetenskaplike en voorsitter van die Garden Route Dam Action Group (Gardag), Desirée du Preez.
Sy waarsku in 'n mediaverklaring dat die spreekwoordelike gans wat die goue eiers lê nie in die slag moet bly nie.
Die skoonheid van die bergomgewing is verantwoordelik vir groot getalle besoekers wat uitdagings soos Six Peaks en Mountain Ultra Trail aanpak en is gewild onder inwoners.
Gedeeltes word egter reeds bo hul drakrag gebruik, veral vir sport, maar volhoubaarheid moet nagestreef word, sê sy.
'n Onlangse sportgebeurtenis wat, sonder die toestemming van die grondeienaars, in die Witfontein-staatsbos en Outeniqua-reservaat gehou is, is ook onder Gardag se aandag gebring.
"Paadjies is wyer gemaak terwyl talle skaars en bedreigde en beskermde plantspesies links en regs afgemaai is met sae, bossiekappers en gif. Ten minste een rooielsboom en talle varings, wat beskerm word onder die Wes-Kaapse Wysigingswet op Natuurbewaringswette, en drie stinkhoutsaailinge, beskerm onder die Nasionale Wet op Bosse, is herkenbaar onder die gekapte plante. Die stinkhoutboompies is gevestig op die bosrant ná afloop van die brand van 2018 om die herstel van beskadigde woudrande aan te help.
"Daar is dus talle wetsoortredings waarvoor die skuldiges voor stok gekry kan word," sê Du Preez.
'n Riviertjie vorm om ‘n erosiebeheerplankie.
CapeNature spreek onwettige optrede aan
Barend le Roux van CapeNature het bevestig dat hulle bewus is van gevalle waar geleenthede op hulle grond plaasgevind het sonder dat toestemming verleen is, en dit is aangespreek. Hy sê wanneer 'n aansoek oorweeg word, word die kwesbaarheid van die omgewing asook die impak en duurte van die aktiwiteit in ag geneem. Die geleentheid moet versoenbaar wees met die omgewing.
Verspoelde paadjies op na George-piek, met dooie plante langsaan.
Sensitiewe woudrande
Volgens Du Preez is die meeste mense nie bewus van hoe sensitief die bergomgewing is nie. "Die lekker sagte paadjies in die berg is gemaak op veengrond, wat soos spons optree om reën- en sneeuwater te absorbeer. Dit voorkom dat die water vinnig teen die berg afloop en groot vloede veroorsaak en sorg ook daarvoor dat ons riviere, wat onder meer ons dam voed, regdeur die jaar water het.
LEES MEER: Samewerking nodig om berg teen oorgebruik te beskerm
Hierdie grondsoort is uiters sensitief vir vertrapping. Soos 'n spons wat platgedruk word, word die water uitgedruk en begin die water bo-op die grondoppervlak vloei. Dit veroorsaak dat die veengrond stelselmatig wegspoel totdat die mineralegrond en klippe sigbaar is. Dit op sigself klink nie soos 'n probleem nie, maar waar die veenbolaag weggespoel het, vorm 'n slootjie wat die omliggende omgewing ook dreineer. Die hele omgewing rondom 'n paadjie word dus drooggelê, met gevolglike afname in die oorlewing van plante."
'n Afgekapte varing.
Wyer en wyer paadjies
Sy sê daarbenewens is die klein riviertjies onge-maklik om in te loop en begin mense op die natuur-like plantegroei, of soos in die huidige geval, op die gekapte of doodgespuite plantegroei, loop. So word paadjies wyer en wyer gemaak, met 'n groter en groter impak. Talle nuwe paadjies word ook oop of wyer gemaak sonder die toestemming of medewete van die grondeienaars.
"Geen onderhoud aan die paadjies word gedoen om byvoorbeeld te verseker dat water stadig en gereeld weggelei word sodat dit nog aangenaam is vir gebruik oor 'n lang tydperk nie, met ander woorde volhoubaar. Waar daar in die verlede plankies gebruik is om water te keer, systap hardlopers hierdie hindernisse en veroorsaak dat water om die versperrings, reguit berg af vloei. Die slotsom hiervan is dus dat die gebruik van ons mooi bergomgewing vir sport nie volhoubaar is nie."
'n Afgekapte stinkhoutboompie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'