GEORGE NUUS - George Herald het verskeie rolspelers vir kommentaar genader oor Desirée du Preez van die Garden Route Dam Action Group (Gardag) se kommer oor die impak van sportgeleenthede en ontspanning op die sensitiewe bergomgewing.
George-toerisme
George se toerismebestuurder, Joan Shaw, sê ons unieke natuurlike omgewing, wat uiteenlopende geleenthede vir stap, veldhardloop en fietsry bied, is een die vlagskip produkte wat George-toerisme graag bevorder.
Sy sê hulle ondersteun sekere geleenthede, maar dan slegs dié wat die sorg en bewaring van die natuurlike hulpbronne aanmoedig.
"Soos wat meer deelnemers gelok word, raak ons al hoe meer bewus van die belangrikheid van bewaring vir toekomstige gebruikers en generasies. Ons werk saam met grondeienaars en ander organisasies om verantwoordelike gebruik aan te moedig. Ons vra die gemeenskap en besoekers om niks saam te neem nie en slegs voetspore - of fietsspore - agter te laat."
MUT hou voetspoor so klein moontlik
Wikus Terblanche van Ecobound, 'n oudnatuurbewaringsbeampte, sê hulle doen alles in hul vermoë om hulle 'voetspoor' so klein moontlik te hou wanneer hulle die jaarlikse George Mountain Ultra Trail run (MUT) aanbied (die enigste geleentheid in die berggebied waarby hulle betrokke is).
Hulle maak gebruik van bestaande voetpadinfrastruktuur soos deur die grondeienaars, CapeNature en die bosboudepartement, bestuur en onderhou word. "Ons gaan wel voor die tyd deur die roete en maak dele daarvan oop waar dit toegegroei het, veral in die fynbosgedeeltes van minder gebruikte paadjies wat vinniger toegroei as byvoorbeeld die bosgedeeltes soos in Tonnelbos. Ons verkry die nodige toestemming van die grondeienaars. Hiervoor betaal ons dan ook 'n aansienlike bedrag aan hierdie instansies."
LEES MEER: 'Sportlui moenie Witfontein-woud vertrap nie'
Terblanche sê hulle maak geen nuwe voetpaaie nie en slegs die bestaande wydte van die voetpad word skoongemaak. Aluminiumpaaltjies of wasgoedpennetjies met 'n laplint word gebruik om die roete te merk, wat deur die "vee"-hardlopers agter die laaste deelnemers saamgebring word.
"Erosiebeheer op die voetpaaie bly uiteindelik die verantwoordelikheid van die organisasie wat die mandaat het om die voetpadinfrastruktuur te bestuur en wat die inkomste uit permitte vir die gebruik daarvan kry."
Terblanche sê hulle maak geen nuwe voetpaaie nie en slegs die bestaande wydte van die voetpad word skoongemaak.
Hillbillies MTB
Emile Kaselowski van Hillbillies MTB sê die klub hou nie groot byeenkomste in die berg nie, maar fokus meer op die sosiale aspek van die sport. Hulle onderhou bestaande paadjies.
"Wanneer nuwe paadjies beplan of gebou word, word dit met uiterste omsigtigheid gedoen. Ons geniet goeie verhoudinge met die eienaars van die grond soos CapeNature en MTO. Baie van die paadjies wat ons onderhou, bestaan al jare lank. Dit sluit voetslaanpaaie en kontoerpaaie in."
George Trails: Samewerking nodig
Werner Rall van George Trails wat George as 'n buitelugbestemming bemark, sê daar is meer as 20 ingange na die bergomgewing tussen die Montagupas en Saasveld. Dis oor verskeie eienaars se grond. "Dit sal altyd moeilik wees om die publiek, wat histories vrye toegang tot die natuurlike omgewing rondom ons stede en dorpe gehad het, te beheer. Stellenbosch en Kaapstad het soortgelyke probleme. Die beste manier is vir al die belanghebbendes om saam te werk en die publiek op te voed oor die verantwoordelike gebruik van paadjies en ons natuurlike omgewing, aangesien die afsper van gebiede net eenvoudig nie prakties is nie."
Hy sê die gebruik van die gebied is 'n voorreg en nie 'n reg nie en die publiek moet grondeienaars se wette te alle tye respekteer. "Grondeienaars moet van hulle kant af meer hulpbronne beskikbaar maak om wat op hul eiendom gebeur, te bestuur."
Sox Trail Run
Janine Botes van Sox Trail Run, wat hardlopers vanoor die land lok, sê tydens hul mees onlangse hardloopgeleentheid is geen voorbereidingswerk aan roetes gedoen nie. "Geen paadjies is oopgekap, varings afgesny of bome afgesaag nie. Die geleentheid het slegs bestaan uit roetes met enkelpaadjies van Hillbillies MTB. Meer as die helfte van die veld het die kort roete gedoen, wat 12 km op bestaande jeeproetes rondom die dam was. Daar is talle ander gebruikers van hierdie roetes. Die Sox-geleentheid kan nie verantwoordelik gehou word vir skade aan roetes wat deur hulle gebruik is nie."
Botes sê Wilderness veral het baie gebaat by vanjaar se Sox aangesien die hele Ebb & Flow-kamp en Fairy Knowe Hotel volbespreek was.
Garden Route Trail Running
Jacques Mouton van Garden Route Trail Running (GTR), 'n gemeenskapsgebaseerde groep van veldhardlopers, sê die lede is lief vir die buitelewe, berg en natuur en ondersteun natuurbewaring en volhoubaarheid van die bos en bergpaadjies. Hy sê met die Covid-19-epidemie is daar 'n groot toename van getalle mense in die berg wat 'n impak gehad op bergpaadjies.
"Die instandhouding en herstelwerk aan paadjies moet dus meer aandag geniet as gevolg daarvan. Grondeienaars en ander organisasies wat betrokke is, moet bymekaarkom en saam 'n oplossing vind om te verseker dat bewaring van die natuur voorkeur kry en volhoubaar is."
Foto's: Dot Symons
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'