GEORGE NUUS - ‘n Man van Pacaltsdorp is Woensdag 18 Desember in Beachweg in hegtenis geneem deur ‘n verkeersbeampte van George-verkeer nadat hy 103 km/h in ‘n 60km/h-sone gery het.
Die motoris is aangehou by die Pacaltsdorp-polisiestasie waar hy later dieselfde aand vrygelaat is. Hy sou vandag in die George-landdroshof verskyn op ‘n klag van roekeloos en nalatige bestuur.
Athane Scholtz, kommunikasie-beampte van die George-munisipaliteit, het die voorval bevestig. “Die voertuig is op ‘n spoedkamera opgetel en die bestuurder is agternagesit, gestop en gearresteer. Volgens prosedure is die bestuurder na die Pacaltsdorp-polisiestasie geneem en ‘n dossier is oopgemaak,” het Scholtz by navraag gesê.
Die verkeersafdeling het alle padgebruikers gemaan om verantwoordelik op te tree om die veiligheid van almal te verseker.
“Die beamptes sal nie skroom om op te tree teen mense wat ander mense se lewens in gevaar stel deur te jaag en roekeloos te bestuur nie.”
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'