GEORGE NUUS - Die Woorde Open Wêrelde (WOW)-spelfees se distriksfinale sal komende Saterdagoggend, 2 September, om 10:00 by Pacaltsdorp Primêr plaasvind.
Die finaliste wat tydens die distriksfinale op die verhoog kompeteer, is gr. 1 tot gr. 10-leerders van Knysna, George, Riversdal, Mosselbaai, Oudtshoorn en Beaufort-Wes. Die WOW-spelfees word deur die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) in samewerking met die Universiteit van Stellenbosch (US) aangebied.
Volgens Franklin Lamini, WOW-distrikskoördineerder, is meer as
1 200 leerders van 51 skole deur die projek bereik. Lamini sê die doel van die WOW-spelfees is om leerders se leesvaardighede te verbeter.
"Die projek streef daarna om opwindende en kreatiewe metodes van leer te skep, om sodoende skole se algehele slaagsyfer te verbeter."
Lamini hoop dat meer skole in die distrik by die WOW-spelfees sal aansluit.
Die topvyf spellers van elke graad sal deurdring na die provinsiale ronde wat Saterdag 9 September by die US sal plaasvind. Boekpryse is vir die topdrie leerders op die spel. Opvoeders is die beoordelaars by alle kompetisies. Lamini nooi die gemeenskap uit om die geesdriftige spellers te kom ondersteun.
Die finaliste wat tydens die distriksfinale op die verhoog meeding, is gr.1 tot gr.10-leerders van Knysna, George, Riversdal, Mosselbaai, Oudtshoorn en Beaufort-Wes.
ARTIKEL: BRUMILDA SWARTBOOI
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'