GEORGE NUUS - Sosiale media het Dinsdagmiddag 26 Mei, weer behoorlik gegons ná 'n manlike provinsiale verkeersbeampte volgens ooggetuies 'n vroulike bestuurder in Yorkstraat 'rondgeruk en -gepluk' het.
Verskeie verbygangers het die George Herald ná die beweerde voorval gekontak met ooreenstemmende weergawes van wat hulle gesien het.
Volgens die getuies het twee verkeersbeamptes, 'n man en 'n vrou in afsonderlike voertuie, die vrou in Yorkstraat afgetrek waarna 'n woordewisseling tussen haar en die manlike beampte plaasgevind het. Die vrou is gevolglik hardhandig hanteer en deur die beamptes in hegtenis geneem.
Kort daarna het 'n plasing op die plaaslike Facebook-groep, Georgiete Staan Saam (GSS) verskyn waarin een van die ooggetuies die beweerde hardhandigheid van die verkeersbeampte bevraagteken. Die plasing is later weer afgehaal.
"Weet iemand wat vanoggend so 07h50 in Yorkstraat gebeur het toe 2 provinsiale verkeersbeamptes 'n vrou uit haar kar getrek en geboei het. Dit het gelyk na die gebruik van uitermatige mag om 'n vrou so te arresteer. Praat met ons asseblief?" lui die inskrywing.
Ander ooggetuies het ook hul misnoeë uitgespreek oor die manier waarop die beampte die vrou hanteer het.
"Sy het seker die wet oortree anders sou hulle haar nie in hegtenis geneem het nie, maar dit was nie nodig om haar so rof te hanteer nie. Die manspersoon het haar geruk en -pluk en haar sleutels uit haar kar probeer gryp. Dit was 'n baie groot man. Al was sy verkeerd, dis nie hoe 'n mens 'n vrou hanteer nie," het een van die ander verbygangers in 'n WhatsApp-boodskap aan die George Herald gesê.
Die plasing wat na die beweerde voorval op Facebook gemaak is.
'n Storie het altyd twee kante
Die bestuurder (41) het blykbaar versuim om by die berugte lughawe-kruising se stopstraat te stop.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, Kapt. Malcolm Pojie, is die George-speurders besig om 'n saak van roekeloos en/of nalatige bestuur teen die bestuurder te ondersoek ná sy deur die provinsiale verkeersbeamptes in hegtenis geneem is.
"Die voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagte 'n verkeersoortreding gepleeg het deur 'n stopstraat te vermy waarna sy deur die verkeersbeamptes op die R102 (lughawe-pad) afgetrek is. Dit word beweer dat die verdagte die hasepad gekies het toe die beampte 'n boete aan haar wou uitreik," sê Pojie.
Die vrou het blykbaar vir die verkeersbeamptes weggejaag waarna hulle daarin kon slaag om haar eindelik in Yorkstraat vas te trek ná sy reeds verskeie ander motoriste, sowel as haar eie lewe, in gevaar gestel het.
Sy is in hegtenis geneem en op 'n waarskuwing vrygelaat om in September haar eerste verskyning in die George-landdroshof maak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'