GEORGE NUUS - Die beplande reünie van die dames wat in 1971 geskiedenis gemaak het toe hulle by die Burgerlike Beskermingskollege (later verander na die SA Leërvrouekollege) in George aangemeld het, gaan nou van 16 tot 18 November plaasvind. Die reünie was aanvanklik vir 4 tot 6 Mei by die Wilderness Hotel beplan.
Dit moes egter uitgestel word as gevolg van die impak van Covid-19. Arina Jooste, die koördineerder van die reünie, het Maandag 15 Maart bevestig dat dit nou eers in November gaan plaasvind.
Sy het gesê dat alles presies dieselfde sal voortgaan en dat die Wilderness Hotel gewillig is om die besprekings oor te dra.
Van die oorspronklike groep van 128 studente is 20 reeds oorlede en die oorblywende 108 is almal opgespoor. Na verwagting sal meer as die helfte van die oorblywende groep dit bywoon. Daar is belangstelling van oudstudente wat deesdae so ver as Amerika, Switzerland en Nederland woon.
Altesaam ses van die oud-studente en een oudstaflid se dogters het in hul voetspore gevolg en hul opleiding by die kollege voltooi.
Die destydse hoofgebou van die soldoedies.
Die hoofgebou van die SA Leërvrouekollege was vernoem na Elize Botha, eggenoot van PW Botha, minister van verdediging en Volksraadslid vir George.
Tydens die geleentheid in November sal 'n besoek aan die voormalige kollege en die Outeniqua MOTH Shellhole gebring word. Daar sal ook 'n gala-aand wees. "Daar heers groot opgewondenheid om die reünie as hoogtepunt van die 50 jarige vieringe af te sluit," het Jooste gesê.
Vir meer besonderhede stuur 'n e-pos aan Arina Jooste by joosteja@mweb.co.za.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'