GEORGE NUUS - Ofskoon planne in die stadium voortgaan om 'n reünie te hou van die dames wat in 1971 geskiedenis gemaak het toe hulle by die Burgerlike Beskermingskollege (later verander na die SA Leërvrouekollege) in George aangemeld het, sal die organiseerders in Maart die situasie evalueer en waarskynlik dan eers 'n finale besluit neem.
Die reünie word voorlopig beplan vir 4 tot 6 Mei by die Wilderness Hotel.
Vrae oor die aanbied van die reünie is onlangs gevra as gevolg van die impak van Covid-19.
Arina Jooste, die koördineerder van die reünie, het by navraag gesê dis in die stadium absoluut onmoontlik om 'n besluit te kan neem. “Ons weet nie wat die volgende verwikkeling rakende die inperkingsmaatreëls gaan wees nie. Ons sal teen middel Maart die situasie evalueer en dan sal die komitee 'n besluit moet neem.”
Indien daar besluit word om dit uit te stel, moet voorkom word dat 'n alternatiewe datum weer verander moet word.
Volgens haar is die voorbereiding afgehandel en daar is fantastiese deelname. Daar heers groot opgewondenheid en daar word verwag dat meer as die helfte van die oudstudente dit sal bywoon. So ver as Amerika, Switzerland en Nederland. Van die oorspronklike 128 studente is ál 109 opgespoor. Altesaam 19 reeds is oorlede.
Altesaam ses van die oudstudente en een oudstaflid se dogters het in hul voetspore gevolg en hul opleiding by die kollege voltooi.
Die hoofgebou van die destydse Burgerlike Beskermingskollege (later verander na die SA Leërvrouekollege) in George. Die gebou was vernoem na Elize Botha, eggenoot van PW Botha, minister van verdediging en Volsraadslid vir George.
Verskeie dinge word beplan en 'n kompetisie is reeds afgehandel om fondse in te samel. 'n Handgemaakte kwilt ter waarde van R6 000 en 'n oorspronklike skildery van R25 500 kon gewen word.
“Ons het 308 inskrywings teen R100 elk gekry. Hierdie fondse sal aangewend word om oudstudente te help om by te woon asook ander uitgawes te dek.
“Wat dit so uniek maak is dat die kwilt en die skildery deur oudstudente gemaak en geskenk is naamlik Diana Bezuidenhout (kwilt met Protea motiewe) en Mariëtte van Velden (Skildery genaamd Zebra Migrasie). Die wenners was twee oudstudente wat dit nog meer spesiaal maak."
Tydens die geleentheid sal 'n besoek aan die voormalige kollege en die Outeniqua MOTH Shellhole gebring word.
Daar sal ook 'n gala-aand wees. Op 6 Mei sal die geleentheid afgesluit word met 'n kerkdiens.
Vir meer besonderhede stuur 'n e-pos aan Arina Jooste by joosteja@mweb.co.za.
Arina Jooste, die koördineerder van die reünie.
The reunion of the first intake of women in 1971 to the Civil Defence College (later the South African Army Women’s College) in George could be postponed. The reunion is planned for 4 to 6 May in George. Questions have been asked if it will go ahead because of the covid-19 situation. According to the organizers plans are going ahead at this stage. A decision will probably only be taken in March. There are huge interest. Former members, even some that stay abroad in America the Netherlands and Switzerland, are interested to attend.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'