Fifa se veldinspekteurs is baie tevrede met die standaard van die Loeriepark- en Pezula-oefenvelde in Knysna, maar dit is veral Outeniqua Park in George wat as een van die topterreine in die land aangeslaan word.
Die opgradering van die stadion en A- en B-velde het bykans R2 miljoen beloop.
George se senior bestuurder van sport, André Smith, sê die doelpale gaan op die oomblik op en Fifa sal die wit lyne self merk.
"Alle ingange is reeds toegemaak sodat niemand kan inloer nie."
Mediasentrum baie duur
Die Japannese mediasentrum word volgende week op die Outeniqua Park Stadion-parkeerarea opgerig. Net die internettelefoonlyne beloop ‘n allemintige R450 000. George en Eden betaal elkeen ‘n kwart van die koste terwyl die Japannese die ander helfte dek. Die bandgrootte is 12 megagrepe en tussen 100 en 150 Japannese verslaggewers word verwag.
Oop oefensessie
Die publiek kan om 15:00 op 7 Junie ‘n oefensesssie van Japan by Outeniqua Park kan bywoon. Hoewel die stadion sitplek vir 7 000 mense het, sal daar met die polisie beraadslaag moet word oor skarebeheer. Na gelang hiervan sal ‘n sekere aantal kaartjies gratis beskikbaar gemaak word.
Op hierdie stadium sal die kaartjies by die burgersentrum en gemeenskapsentrums afgehaal word en maksimum twee kaartjies per persoon word toegelaat.
Smith sê daar sal geen fanfare by die stadion wees nie. "Kaartjies sal besliste pleknommers hê en mense moet op eie stoom by die stadion kom. Dit behoort ons taxi-industrie ‘n hupstoot te gee."
Jolkol
Die amptelike jolkol by die Rosemoor Stadion sal oop wees vir agt dae tydens die toernooi. Die amptelike opening op 11 Junie sal gepaard gaan met groot feesvieringe.
‘n Optog van die burgersentrum na die jolkol sal gelei word deur trompoppies en hooggeplaastes. Die publiek is ook genooi om aan die optog deel te neem.
Twee groot skerms sal onderskeidelik die sokker en vermaaklikheidsprogramme uitsaai. Op elk van die agt dae sal verskeie kunstenaars optree om die skares voor en na die wedstryde te vermaak en ‘n biertuin sal die keel nathou. Vermaak vir die kinders en sokkerklinieke sal ook aangebied word.
Besoekers sal by die omliggende skole teen ‘n tarief kan parkeer, maar sekuriteit en beligting word verskaf. Mense moet ook onthou om piekniekkomberse of kampeerstoele saam te bring.
Tenders vir die kosstalletjies en kuns- en hand-werkstalletjies sluit môre.
Vir ‘n volledige Jolkolprogram en uitsaaiskedule, maak seker dat jy nie 10 Junie se vakansiegids in die George Herald misloop nie.
Artikel en foto's: Ilse Schoonraad
.jpg)
Beslis die mooiste ligging in die land! Pezula-direkteur, Claus Martin spog met ‘The Field of Dreams’.