Video
GEORGE NUUS & VIDEO - Eers het hy sy merk op die rugbyveld as speler en afrigter gemaak. Nou is hy sakeman wat bydra tot die plaaslike ekonomie en sowat 10 nuwe werksgeleenthede skep.
Dit is deel van die lewenspad van die oud-Springbok, Bevin Fortuin, wat verlede Woensdagaand, 15 Desember, 'n nuwe kuierplek in George oopgemaak het. Nog 'n oud-Springbok, Anton Leonard, het reeds 'n kuier- en eetplek in Groot-Brakrivier.
Fortuin se planne om 'n kuierplek oop te maak kom 'n lang pad. Na sy uittrede as speler was hy onder meer afrigter van die SWD Arende en ook 'n lid van die George-stadsraad.
Die idee van 'n kuierplek waar mense heerlik kan ontspan en onder meer oor sport gesels was al lankal in sy kop. Hy het by 'n paar sulke plekke gekuier, maar besluit dit moet anders wees. Die gogga het hom gebyt en hy het begin soek na 'n geskikte perseel.
Bevin Fortuin saam met van die personeel van sy nuwe kuierplek.
Toe die regte plek in Knysnaweg opduik, het hy die daad by die woord gevoeg. Sy aanvanklike plan was om dit al in 2020 oop te maak, maar toe kom steek Covid-19 'n stok in die wiel. Sulke plekke kon eers weer hul deure op vlak 3 van die inperking oopmaak.
Verskeie dinge moes gedoen word soos, goedkeuring vir 'n dranklisensie en bouwerk om die bestaande gebou aan te pas. Volgens hom was dit baie harde werk om die plek te vestig.
Op die perseel is drie reuse-TV-skerms waar mense sport kan dophou terwyl hulle kuier. "Almal is welkom en streng Covid-19-regulasies word gevolg."
Hy gaan beslis saam met die besoekers oor sport en rugby gesels. Tot dusver het hy positiewe terugvoering ontvang en die Springbok Damian Willemse, het al 'n draai daar gemaak.
Die laaste paar jaar was baie moeilik en hy hoop dat mense daar 'n aangename atmosfeer sal ervaar.
Bevin Fortuin saam met van die personeel by sy nuwe kuierplek.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'