Rene (28), 'n verkoopskonsultant by Absa in George en haar man, Liberto Carelse (29) het op 26 November 2011, in die Ou Klipkerk in Pacaltsdorp trou aan mekaar beloof.
Hierdie twee liefies was bevoorreg om in dieselfde buurt groot te word. "Ek het haar sommer in die straat gesien," grap Liberto.
Hul vriendskap het gegroei tot 'n verhouding van vier jaar, toe trouklokke begin lui het. Die groot vraag is uiteindelik op Kersdag 2010 gevra, terwyl Rene 'n feesmaal saam met sy familie geniet het.
Die paartjie was tien maande lank verloof voordat hulle getroud is. Die twee, duidelik baie verlief, het vertel dat die getroude lewe goed is. Verder voeg hulle by dat die huwelik net soos enige ander verhouding ook moeilike tye deurgaan en juis omdat dit nuut is, dit met tye challenging kan wees, maar dat dit beslis die moeite werd is om te trou.
In Januarie verlede jaar het Rene ingeskryf vir die Bruid van die Jaar-kompetisie. Rene is kort daarna as bruid van die maand aangewys en het so ook gekwalifiseer vir die Bruid van die Jaar.
Op 11 Februarie hoor die paartjie dat Rene die gelukkige bruid is wat drie nagte insluitend ontbyt vir twee by enige Tsogo Sun Hotel / Oord of Tuinhof gewen het. Ander pryse sluit in: Twee ekonomiese klas retoer-vliegkaartjies op Kululu.com, sowel as 'n R200-koopbewys vir aandete by Pomodoro Restaurant in Wildernis.
Steeds onseker oor waar hulle hul 'tweede wittebrood' gaan deurbring, vertel die twee dat hulle uitsien na die tydjie saam in Durban of dalk in die Kruger Nasionale Park.
Harvey World Travel nooi enige bruide binne die Suid-Kaap uit om in te skryf vir die kompetisie. Die inskrywing is gratis en inskrywingsvorms is beskikbaar by George, Oudtshoorn, Knysna en die George Herald -kantore in Yorkstraat. Hou gerus die George Herald dop vir meer besonderhede oor die wonderlike pryse wat in vanjaar se kompetisie gewen kan word.
Die wenpaartjie saam met die van die borge en die span van Harvey World Travel (HWT), agter van links Antionette Kirsten (HWT), Sandra Roodt (Travel Bugs), Daniëlle van Jaarsveld (Bridal Inn), Caren Ogilvie (Bridal Inn), Werner Pons (Pomodoro Restaurant), Roselien Delo (HWT) en Renate Roodt (Travel Bugs).