GEORGE NUUS - Die Wes-Kaap departement van onderwys se program vir aanlynregistrasie het volgens 'n paar skole in George nie so goed gewerk soos voorsien is nie.
Baie hoofde erken dis 'n 'oulike' program, maar dat die kinkels in die kabel eers uitgestryk moet word.
Ouers doen aanlyn aansoek by ten minste drie skole van hul keuse. Vir die nuwe skooljaar word daar dokumentasie aangevra soos die geboortesertifikaat, immunisasiekaart, vertrekkaart, laaste vorderingsverslag asook 'n studiepermit uitgereik deur departement van binnelandse sake indien die leerder nie 'n Suid-Afrikaanse burger is nie. Ouers het ook nou die opsie om afdrukke van die dokumentasie aanlyn te laai, anders as verlede jaar.
Bronagh Hammond, die kommunikasie-direkteur van die WKOD, sê enige kind kan egter registreer, al is die dokumentasie nie beskikbaar nie. "Ouers moet genoeg tyd gegee word om dit in te dien." Sy sê aansoeke vir skole open volgende Maandag, 17 Februarie. Aansoeke kan aanlyn gedoen word, maar indien ouers nie die fasiliteite het om dit aanlyn te doen nie, of die skool hulle van sulke fasiliteite kan voorsien nie, kan die aansoeke op skrif gedoen word.
Sy sê aansoeke vir toelating tot skole sluit op Dinsdag 17 Maart, wat ouers 'n maand kans gee om alle aansoeke te doen. Daar sal tussen 15 en 22 Mei per e-pos of SMS met ouers gekommunikeer word.
Daar word van ouers verwag om teen Vrydag 5 Junie te laat weet of hulle aanvaar of nie.
Sodra ouers toelating by skole aanvaar moet gesertifiseerde dokumentasie na die skool geneem word voor middernag 5 Junie 2020.
Hammond sê die departement het gewerk aan meeste van die kwessies rakende aanlynaansoeke asook die verandering van wagwoorde en die toestroming van groot volumes aansoeke.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'