GEORGE NUUS - Die Suid-Kaap Kollege loop breë bors rond nadat die instansie vyf agtereenvolgende ongekwalifiseerde oudits met geen bevindinge van die ouditeur-generaal ontvang het.
Die kollege het dit die eerste keer in 2017 behaal en daarna weer in 2018, 2019, 2020 en in die jongste vir die boekjaar in 2021 (van Januarie tot Desember).
Die instansie het sowat 6 000 studente en kampusse in George, Mosselbaai, Riversdal, Oudtshoorn, Beaufort-Wes en Plettenbergbaai.
Verskeie akademiese programme word aangebied in onder meer kantoorbestuur, rekenaarprogramme, personeelbestuur en besigheidsadministrasie. Daar is ook studierigtings in tegniese vaardighede en ambagte soos bouwerk en loodgieterwerk. Die kollege bied ook 'n BA-graad namens Unisa aan.
Alewijn Dippenaar, voorsitter van die kollege se raad, het Maandag bevestig dat die OG onlangs die verslag uitgereik het.
Die instansie ontvang hulp van die departement van hoër onderwys en is net soos enige ander staatsinstelling onderhewig aan oudits van die OG.
Volgens Dippenaar is die kollege baie trots en is dit 'n besonderse prestasie. Daar moet in gedagte gehou word dat daar veral die laaste twee jaar groot uitdagings was tydens Covid-19-inperkings. Baie van die personeel moes van hul woonplekke af werk en studente kon nie altyd fisies klas op die kampusse bywoon nie.
Daar is verskeie redes vir die sukses. Dit sluit in dat die bestuur deurlopend pro-aktief optree en aandag gee aan moontlike tekortkominge. Daar word nie gewag tot situasies eers uitgewys word nie.
Voorts het die senior bestuur onder leiding van sy huidige prinsipaal, Tercia Terblanche, en die vorige prinsipaal, Elsie Potgieter, toegewyd opgetree.
Hy het ook verwys na die rol van wyle prof. Francois Hanekom wat op die kollege se raad gedien het. Volgens hom het Hanekom 'n groot rol gespeel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'