Update
UNIONDALE NUUS - Die N9 by Uniondale is ‘n kort rukkie gelede weer vir verkeer oopgestel, maar die situasie in die dorp is steeds plofbaar.
Alle toegangspaaie, in en uit Uniondale, is vanoggend aanvanklik gesluit as gevolg van protesoptrede.
Chantel Edwards-Klose, kommunikasiebestuurder van die George-munisipaliteit, het vanoggend by navraag gesê die Openbare Orde Polisie-eenheid (Pops) is op die toneel en munisipale amptenare hou die situasie dop.
Die Uniondale-kliniek is ook vandag gesluit as gevolg van die protesoptrede.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het kort gelede gesê die N9 is oopgestel.
Mense kan in en uit Uniondale beweeg, maar word gemaan om versigtig te wees want die situasie is plofbaar.
Op die oomblik word gesprekke gevoer tussen die polisie en protesgangers in ‘n poging om tot ‘n vergelyk te kom.
Volgens Pojie wil dit voorkom of die protesoptrede gaan oor dienslewering. Hy bevestig dat George se onderburgemeester, Charlotte Clarke, die gebied besoek het. Die protesgangers was egter nie gelukkig nie en het daarop aangedring om met Melvin Naik, die burgemeester te praat.
Die polisie bly op die toneel en hou die situasie dop.
*Die ANC het in ‘n verklaring aangedring dat Naik die gebied besoek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'