Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Lede van die jeugsakeorganisasie, Shift het op Vryheidsdag 27 April moue opgerol en uitgereik na Bethesda, 'n kinder- en jeugsorgsentrum in Rosemoor.
Tydens die besoek is onder meer 26 nuwe skooltasse aan die instansie oorhandig. Daar is ook boereworsrolletjies gemaak en krieket en sokker saam met die kinders gespeel.
Shift se oogmerk is onder meer om jeugbemagtiging te bevorder.
Die voorsitter van Shift, Des-lie van Wyk, het by navraag gesê die organisasie wil elke maand 'n geleentheid benut om terug te ploeg in die gemeenskap. Baie sal afhang van die samewerking van die gemeenskap en moontlike borge.
Daar is op Bethesda besluit omdat hulle met jonger mense werk.
Die reaksie was baie positief. "Van die kinders wat die dag teenwoordig was kon nie uitgepraat raak oor die besoek nie. Ons het vir hulle vertel wat ons doen. In die toekoms is dit moontlik dat Shift vir hulle beroepsleiding in entrepreneursvaardighede kan aanbied."
Lede van Shift en kinders van Bethesda tydens die geleentheid.
Volgens Van Wyk moet die kinders besef 'n mens kan 'n sukses-volle toekoms bou. Hulle wil die kinders hoop gee en inspireer. Hy het benadruk die geleentheid op Vryheidsdag was net die begin van baie meer sulke geleenthede.
Hy het 'n beroep op jong entrepreneurs gedoen om betrokke te raak. Hulle kan ook skenkings maak wat vir sulke projekte aangewend kan word.
Wendell Pietersen van Bethesda het gesê die uitreikaksie was 'n goeie belewenis. Dit help om die kinders hoop te gee.
VIDEO: Shift reik uit
Tydens die geleentheid is daar aan die kinders vertel wat na skool wag en dat daar vir hulle verskeie opsies is. Bethesda verwelkom sulke geleenthede.
Die skooltasse wat oorhandig is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’