GEORGE NUUS - Nog 'n jong lewe is kortgeknip toe 'n leerder van Heidedal Primêr, Christon Kortjé (8) van Conville, verlede Woensdag, 1 Desember, deur 'n taxi in Nelson Mandela-boulevard omgery is. Die ongeluk het tussen 16:00 en 16:30 oorkant Highway Fisheries plaasgevind.
Christon en van sy vriende het glo langs die pad gespeel toe hy voor die taxi beland. Hy is per ambulans na die hospitaal geneem, maar het op Saterdag 4 Desember aan sy beserings beswyk.
Kleine Nikita Jansen van New Dawnpark is ook verlede Saterdag begrawe ná sy die vorige Sondag deur 'n bakkie raakgery is waar sy op die sypaadjie naby haar huis gestap het. Sy is op die toneel dood.
"Hy wou so graag 'n foontjie vir Kersfees gehad het om speletjies op te speel," vertel Christon se tannie, Katie Hansen, wat namens die familie optree. Volgens haar was Christon 'n vriendelike kind wat nooit probleme gegee het nie.
"Hy was 'n gehoorsame kind en baie geheg aan sy ouma, Maria Hartnick, en sy tannie wat ons twee weke gelede ook aan die dood moes afstaan," sê sy.
Christon laat sy ouers, Anna en Desmond Appels, 'n broer en twee sussies agter. Begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bevestig nie, maar die familie hoop om dit teen eerskomende Saterdag af te handel.
"Ons wil net vir elke liewe een wat ons in die tyd ondersteun het, baie dankie sê. Die ongeluk het ons regtig getref en sy ma sukkel om sy dood te verwerk. Dis tragies," sê Hansen.
Teen druktyd het die polisie nog nie op enige navrae rondom die voorval gereageer nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'