GEORGE NUUS - Die gemeenskap van New Dawnpark is in rou gedompel ná Nikita Jansen (6) Sondag-oggend, 28 November, in Proteastraat doodgery is. Die voorval het omstreeks 10:00 voor Laerskool New Dawn Park, plaasgevind.
'n Inwoner vertel dat Nikita op pad was na 'n buurvrou in hul straat toe 'n wit Toyota dubbelkajuit-bakkie haar op die sypaadjie getref het. Die voertuig het nie dadelik tot stilstand gekom nie en het deur die skool se heining gebars.
Nikita is op die toneel oorlede.
"Sy was 'n borrelende kind en almal was lief vir haar. Sy was die sonskyn in die huis. Daar is nie woorde om te beskryf hoe baie ons haar mis nie. Ek het nog geslaap en toe ek wakker word, is my kind dood," het Nikita se ma, Alfrieda Jansen Dinsdag aan George Herald gesê.
Die bakkie het deur Laerskool New Dawn Park se heining gebars. Foto: Jade Sateria
'n Begrafnisdiens word Saterdag 4 Desember in Laerskool New Dawn Park se skoolsaal gehou. Sy laat haar ouers en 11-jarige boetie agter.
Kort ná die voorval het lede van die gemeenskap oproerig geraak en gedreig om die bestuurder van die voertuig, Charlie Tekana (45), te lyf te gaan. Hy is deur die polisie van die toneel verwyder.
Tekana het Dinsdagoggend, 30 November, sy eerste verskyning in die George-landdroshof gemaak.
Nikita Jansen (6) is Sondagoggend, 28 November in New Dawnpark doodgery.
Hy is vrygelaat op borgtog van R3 000 en moet weer op 16 Februarie in die hof verskyn. Hy staan tereg op aanklag van strafbare manslag, asook die bestuur van 'n voertuig onder die invloed van drank.
Die saak dien voor landdros Götz Essel. Ashtrid Michaels is vir die staat en Tekana word deur Clayton Samson van Jansen en Samson Prokureurs verteenwoordig.
Die toneel in Proteastraat Sondagoggend.
'n Blommekrans in Proteastraat waar Nikita doodgery is. Foto's: Kristy Kolberg
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'